Kosbare Woorde wat ver kom - 3 Julie 2017
Ewald Schmidt
“Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God. Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.” Efesiërs 1:1
Daar is so baie woorde in elke dag. Ons tegnologie lewer woorde af teen die spoed van lig. Tog het die meeste woorde hul waarde verloor, 'n digitale geraas wat ons vinnig sif en uitvee. Min woorde bly ons by.
In Bybelse tye was dit so anders. Die koms van 'n persoonlike brief was 'n groot gebeurtenis. Iemand wat 'n belangrike boodskap wou oordra, het dit per hand op papirusrolle neergepen. Dan moes iemand betroubaar gevind word wat daardie brief by die ontvanger sou gaan aflewer. Dit het gewoonlik 'n hele reis te voet, per skip of met rydiere behels. Daar was baie gevare langs die pad wat getrotseer moes word. Daarom is elke brief met groot vreugde ontvang. Wanneer die boekrol oopgerol was, het die leser besef dat elke woord kosbaar is. Volgens die skryfstyl van destyds was dit gebruiklik dat 'n brief dadelik gesê het wie die skrywer is, en aan wie dit gerig word.
In die eerste sin van die Efesiërsbrief word die wonder vertel van God se genade in een man se lewe. Ons leer Paulus in Handelinge ken as die man wat die kerk van Christus probeer uitroei het – hy het eens Jesus gehaat. Nou, jare later, het hy die getuie geword dat Jesus leef. Van vervolger word hy gestuurde, boodskapper van die Goeie Nuus. Hy skryf aan gelowiges in Efese – 'n strategiese hawestad waar goedere en gedagtes van Asië en Europa uitgeruil word. Daar was 'n gemeente in Efese wat bestaan het uit Grieke, en Jode wat Jesus as die Messias leer ken het. Party was dalk ryk sakemanne, ander nog steeds slawe. Maar elkeen in Efese moes die boodskap hoor van die nuwe lewe in Christus – die sentrale tema van die brief. Hierdie brief het ook vir ons behoue gebly, om vir mense uit soveel verskillende agtergronde te vertel van die ware lewe wat Christus Jesus bring.
Gebed: Here, dankie vir u Woord, wat ons leer dat daar nuwe lewe vir my beskikbaar is in Christus Jesus! Amen