Vers n dag - 29 Maart 2011
God is my baas
Johann Symington
Skrifgedeelte
Psalm 8
7 U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8 skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9 die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
Ek het die Psalm al hoeveel keer gelees en nog nooit die waarheid daarvan betwyfel nie. Maar ek vind ‘n verrassende nuwe interpretasie van Psalm 8 in Patrick Klingman se boek Thank God it’s Monday.
Volgens hom gee God aan die mensdom bepaalde take om te doen. Hy delegeer alle arbeid. Niemand is dus ooit in God se wêreld sy of haar eie baas nie. In die laaste instansie is ons aan God verantwoordelik.
Tweedens sien ons in Psalm 8:5-8 dat werk bedoel was om opwindend, uitdagend en lekker te wees. Om in God se skepping te mag werk, word gereken as ‘n groot eer, nie ‘n straf nie. Die feit dat ons handewerk nie met God s’n kan wedywer nie en boonop aangetas is deur die sonde, beroof nie ons arbeid van geestelike beteken nis. As die Here ons baas is in die ware Bybelse sin van die woord, impliseer dit dat ons Hom met ons werk moet eer en sy koninryk op aarde daarmee moet vestig en uitbrei. Daarom doen ons alles “van harte, soos vir die Here en nie vir mense nieâ€, soos Kolossense 3:23 aanbeveel. Christene behoort hulle werk met besieling te doen omdat hulle dit nie in die eerste instansie vir ‘n aardse baas doen nie. Paulus praat in Kolossense van slawe, mense sonder regte, wat so gemotiveerd moet werk. Hoeveel te meer geld dit nie vir ons nie.
Laastens het ons nie ‘n baas wat ons foute in ‘n leer opteken om later teen ons te gebruik nie. Die Baas is by jou. Baie gelowes getuig, dat vandat hulle aan God as hulle onmiddellike, altyd teenwoordige Baas dink, hulle met nuwe ywer werk. Daarmee saam het hulle gebedslewe aansienlik verbeter want ‘n mens moet darem gereeld aan jou Baas verslag doen oor jou vorderng. En die geval doen jy dit sommer deur middel van gebed.
Here, as ek daaraan dink dat U my Baas, is kry ek so skaam vir die afskeepwerk wat ek soms doen. Help my om te werk asof vir U.