Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 28 Maart 2011

Adam,  Besturende Direkteur

Johann Symington

Skriflesing:

Gen 1:26-30

God het gesê: “Kom *Ons maak ’n mens wat in ons plek kan regeer. Die mens moet hoof wees oor die visse in die see en oor die voëls in die lug. Hy moet ook hoof wees oor die mak diere en oor die hele aarde, en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

27 God het toe die mens gemaak om in sy plek te regeer. Hy het die mens gemaak om in sy plek hoof te wees. Hy het die mense so gemaak dat daar mans en vroue is.

28 God het hulle *geseën en vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voëls in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg.”

29 God het gesê: “Ek gee nou vir julle al die plante wat saad dra op die hele aarde, en al die bome wat vrugte en saad dra. Dit is die kos wat julle mag eet. 30 Die gras en die groen plante is kos vir al die wilde diere, vir die voëls en al die ander diere wat op die aarde lewe.”

Dit het gebeur.

As Adam in vandag se tye gelewe het sou hy ook op sy CV kon sit dat hy as besturende direkteur  van ‘n groot  maatskappy,  Eden  Onbeperk, opgetree het. God het hom sommer van die begin af in beheer geplaas van hierdie groeiende bedryf, Aarde. Hy moes  nuwe bronne ontdek en ontgin, die wêreld leer ken en die diere en plante name gee. Daar moes geplant word en wisselbou toegepas word. Sy Godgegewe opdrag was om die besigheid namens God te bestuur.

Die paradys was dus nie ‘n plek waar die mens kon leeglê nie. Werk was deel van sy lewe van die begin af. Weens die sondeval was dit natuurlik nie meer elke dag suiwer plesier nie en het dit dikwels gepaard gegaan met moeite, uitputting, swaarkry, ekstreme klimaatstoestande, arbeidsonrus, en verliese. Hoewel die mens vervreem is van die voorreg om die paradys te bewoon, het die wye wêreld steeds op hom gelê en wag.

Net so is jou werkplek deel van die wêreld. Dit wat jy in jou werk doen, hou verband met die skeppingsopdrag wat God aan die begin vir ons gegee het: die verskaffing van produkte waarmee mens en dier kan oorleef, die verwerking van grondwtowwe sodat ons die voordeel daarvan kan hê, die bestudering en bestuur van die natuur, die onderrig, opleiding en verpleging van mense. Daarom vervul feitlik elke soort werk (met enkele uitsonderings!) ‘n noodsaaklike plek in God se skepping. Selde is dit mooier gesê as in Peter Snyders se gediggie oor die straatveër wat sy beroep besing met “Ek is ôk important”.

Werk is edel. Werk is ‘n roeping en ‘n voorreg. Dit maak jou ‘n medewerker op God se werf ongeag hoe nederig jou nering.

Here, leer my om my werk as ‘n heilige opdra van U te beskou  al is my werk hoe nederig.  Vergewe my as ek so kla wanneer ek in U akker moet werk.

Previous article: Vers n dag - 29 Maart 2011 Prev Next article: Vers n dag - 25 Maart 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.