Vers n dag - 24 Maart 2011
Jy sê jy’t gely vir jou geloof?
Johann Symington
Skriflesing: Hand 8:2
Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. 2 Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.
Ons hou daarvan om ons lyf martelaar te hou. As ons twee keer op ‘n Sondag in die kerk was, sien ons dit as ‘n buitengewone opoffering. Ons doen ‘n bietjie moeite vir die kerkbasaar en dink dan ons het ons afgesloof vir die kerk. Ons maak in ons koppe lysies met regmerkies vir die moeite wat ons gedoen het om aan te trek vir die kerk, deur die preek te sit en nogal iets daarvan te onthou, deur die lang gesange te worstel, R50 in die kollektebordjie te plaas en na die tyd te gaan tee trink … maar aan ons lyf is nie gevat.
In 1861 skryf ‘n sendeling Theofanus Venard vir sy susters ‘n aandoenlike brief uit China uit. Omdat hy die Christelike geloof verkondig het, is hy deur die Chinese owerheid in ‘n hok gestop en ter dood veroordeel. Hy skryf:
Melanie … Dit is middernag. Rondom die houthok kan ek byna niks sien nie, behalwe die vlae wat hier digby my wapper. Die wagte sit en kaart of skaak speel en die olielamp, sowat twee voet van my hok af, gee net genoeg lig sodat ek op die Chinese papier vir jou kan skryf. Oor ‘n paar uur sal ek die aarde verlaat. Dan is my ballingskap verby en die stryd gewen. Maar eers moet die koring gemaal en die tros druiwe in die wynpers gepars word. Mag ek suiwer brood en wyn wees, volledig geskik om my Meester te dien.
Skielik lyk ons opofferings glad nie meer so heldhaftig nie. Dit dwing ons om te bely dat ons van lyding vir Christus en sy saak maar min begrip het en dat daar van lyding geen sprake is nie. Die een wat ly is eintlik Christus dat ons so min vir hom oor het dat ons nie eens die spreekwoordelike uur saam met hom wil waak nie.   Die feit is dat Christene op die huidige tyd die mees vervolgde groep mense in die wêreld is. Ons hoef maar net die gebeure in Pakistan en Iran dop te hou om te weet dat Christene daagliks hulle Christenskap aan die lyf voel.
Kom ons vergeet ‘n slag van onsself en bid liewer vir mense wat om Christuswil swaarkry en en dikwels in die skadu van die dood moet leef.
Here, vandag het duisende Christene dwarsoor die wêreld heldedade verrig bloot net deur U na te volg. Gee my ‘n opregte hart vir u kerk op aarde.