Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 23 Maart 2011

Verlief op weelde?

Johann Symington

Skriflesing: 1 Tim 6:17

Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7 want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8 As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9 Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10 Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad.

Iemand vertel my nou die dag ‘n rerige siek grappie. Dis van die juppie wat vir hom ‘n splinternuwe Porsche gekoop het. Op ‘n dag trek hy toe ewe windmakerig in by ‘n vulstasie, maar net toe hy sy deur oopmaak ry ‘n petrollorrie die deur morsaf. Onmiddellik is die juppie op sy selfoon en eis dat die versekeraar na die skade moet kom kyk. Die kom dadelik (diens is alles!) kyk na die kar en sê: “Meneer, ek verstaan julle rykes glad nie. Hier bel jy oor jou motor se deur wat af is, maar jy sê niks oor jou arm wat saam met die deur weg is nie.” Die juppie kyk af en sien sy arm is af en al wat hy sê is: “Ag nee, nie my Rolex ook nie!”

Die grappie mag oordrewe klink, maar iets daarin ruik na die waarheid. Ons is verlief op ons luukse goedere, sê een skywer. Maak die verliefdheid op luukshede, dinge waarsonder ons kan klaarkom, ons gelukkiger? Oënskynlik nie. Navorsers sê rykes is nie noodwendig meer gelukkig as ander nie. En tog is dit vir ons ontsettend moeilik om afstand te doen van ons goed of geld. Ons tel die sente af vir die armes, maar dink niks daarvan om geld rond te gooi by ‘n ete of op drankies vir ons pelle nie. Lees ons die verhaal van die ryk jongman in die Bybel, raak ons weëmoedig. Nie omdat ons nie kan dink dat hy so dom kan wees om rykdom en aansien te kies bo geloof in Christus nie, maar omdat ons dit self so moeilik vind. Hy wou so graag ‘n antwoord van Jesus hê wat hom kon gerustel oor sy rykdom. Hy wou so graag hoor dat ‘n mens maar lief vir goed en lief vir God kon wees. As geld maar net geluk kon koop, was sy droom en die droom van ontelbare mense soos hy, wat glo dat geld en goed die antwoord op al ons probleme is. Ons weet as ons geld het, is ons die baas op die plaas. Met geld in jou sak het jy die hef in die hand. Totdat jy op ‘n dag besef dat geld jou in sy mag het.

Die dag as jy besluit genoeg is genoeg en dat jou waarde nie deur die waarde van wat jy besit bepaal word nie, is die dag waarop jy besef hoe waardevol jy en jou medemens, ryk of arm, in God se oë is. Hy het jou waarde so hoog geskat dat Hy sy Seun in ruil daarvoor gegee het. Glo dit met alles in jou, en jy sal lewe in oorvloed hê ongeag of jy geld het of nie.

Gebed: Hemelse Here, leer my dat my sug na geld en goed ‘n gejaag na wind is. Maak my dankbaar vir die oorvloed wat ek daagliks ervaar. Amen.

Previous article: Vers n dag - 24 Maart 2011 Prev Next article: Vers n dag - 22 Maart 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.