Vers n dag - 9 Maart 2011
3.        As die ongeluk jou tref
Johann Symington
Skrifgedeelte
2 Kor 4:8-9
In alles word ons verdruk,
maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is oor raad verleë maar is nie radeloos nie;
ons word vervolg,
maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi,
maar nie vernietig nie.
1 Kor 13:12
Nou kyk ons nog
In ‘n dowwe spiel
En sien ‘n raaiselagtige beeld …
Ongelukke gebeur. Tragedies speel hulle af. Drome val aan skerwe. Een oomblik is jou lewe goed georden alles loop glad en die volgende oomblik oorval die chaos van tragedie jou. Hiervan is Job een van die beste voorbeelde in die Bybel. Job se vriende koppel sy ongeluk onmiddellik aan sonde. Hulle glo die goddelike logika werk net op een manier en dit is dat die loon van sonde straf is.
Baie van ons dink ook op eerste impuls so. As iets slegs ons tref is ons onmiddellike vraag: wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom straf die Here my? En party mense haak so vas in die haak-en-steekbos dat hulle lewe sin verloor. Want watter antwoord is daar op die waaromvraag? Paulus verstaan iets daarvan wanneer hy skryf in 1 Korintiërs 13 dat ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel kyk. Ons eie antwoorde weerkaats terug. Ons eie negatiewe gedagtes, opstandigheid en woede beroof ons van ‘n lewe wat uit die as kan opstaan.
Oor tragedies het ons min beheer - behalwe natuurlik as ons dit self veroorsaak. Ons kan onheil oor onsself bring deur bv onder die invloed van drank te bestuur of roekeloos te lewe en dan moet ons die gevolge dra. Dit wil nie noodwendig sê dat God ons straf nie. God werk nie met n oog-vir –n-oog-beleid nie. Hy knak ‘n gebroke riet verder nie en hy doof nie ‘n dowwe lamppit uit nie. Hy hou ook nie boek van die kwaad nie. Hy herstel, maak heel en herskep. Dis tog die boodskap van heil, wat ons die goeie nuus noem.
So werk God. Hy boer met genade en hy verbind, las en werk ons gebroke self aanmekaar en herstel dit tot ‘n beter menswees, met meer diepte en wysheid as vroeër. Inderdaad gelouter, inderdaad dra ons partykeer nog die merke van ons ongeluk, maar in Hom word ons nuwe mense. En meer dikwels as selde, ‘n beter mens.
Here, wanneer pyn en verlies oor ons pad kom, vra ons, waarheen God? Dankie dat u ons nie alleen op hierdie donker pad sal laat nie. Amen