Vers n dag - 8 Maart 2011
2.        Kortstondig soos die dou...
Johann Symington
Skrifgedeelte
(Ps 90:10) (Ps 90:5,6)
U maak 'n einde aan 'n mens,
hy gaan die doodslaap in.
Hy is soos gras
wat in die môre afgesny word:
in die môre is dit nog groen,
maar dit word afgesny
en teen die aand is dit verlep
en dit verdroog.
Ons lewe maar sewentig jaar,
of, as ons baie sterk is, tagtig,
en dié is vol swaarkry en leed.
Dit is gou verby,
ons vlieg na ons einde toe.
‘n Hele paar maal word daar in die Bybel na die kortstondigheid van die mens se lewe verwys. Dis soos die gras van die veld. Dit hou kwalik ʼn dag en dan waai die wind daaroor en dit is klaar met ta.
As dit dus waar is dat ons min tyd op aarde het, waarom gebruik so baie van ons ons tyd op aarde so onoordeelkundig?
Ons twis, baklei, maak oorlog. Ons studeer, werk en maak dalk geld. Maar ons gaan deur die wêreld met oogklappe aan. Meer as die helfte van die wêreld se skoonheid gaan by ons verby. Ons bêre kastig al die mooi en lekker dinge vir wanneer ons aftree, net om te ervaar die dood staan by die deur en wag.
Elisabeth Kubler-Ross sê êrens dat dit eers is wanneer ons waarlik weet en verstaan dat ons ʼn beperkte tyd op aarde het, en dat daar nie ʼn manier is vir ons om te weet hoeveel dae oor is nie, dat ons sal begin leef asof elke dag die enigste dag is wat ons oor het.
Koop die tyd uit
Christus het so geleef. Omdat Hy geweet het sy dae op aarde is getel, het Hy die tyd uitgekoop. Hy het geweet waarom Hy gebore is. Dit het al in die sterre by sy geboorte geskryf gestaan. Sy hele lewe was gerig op Sy roeping
Jou dae is ook getel, nes die hare op jou kop. God gun aan jou die geleentheid om geskiedenis te skryf met hoe jy lewe. Jy kan waarde aan die lewe op aarde toevoeg. Jy kan ʼn verskil maak. Die vraag is net: wanneer begin jy leef met passie? Soos Jesus, jou Verlosser wat sy lewe gewaag het vir dit waarin Hy geglo het.
Gebed: Here, my lewe maak nie eens ‘n rimpel op die oppervlak nie en U het my met soveel verwagtings geskape. Help my om voluit te lewe vir u Koninkryk.