Vers n dag - 4 Maart 2011
5. Vertroetel jou siel!
Johann Symington
Skrifgedeelte
Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Ps 62:2
God , U is my God. U soek ek; my siel dors na U my vlees smag na U in ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water. ...
My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my. Ps 63:2, 9
Baie min van ons het tyd om die dinge wat ons graag wil doen te doen. Daar is altyd die een of ander saak wat dringend ons aandag verg en dan kom ons nie daarby uit nie. En dikwels is die laaste ding op die lysie om ons sielsverlange na God te bevredig.
Die ipod en die blackberry en allerhande ander “speelgoed†is die nuutste frustrasie. Jy dink nog jy het ʼn kind se aandag dan sit hy op sy selfoon en peuter. Of in ʼn vergadering lui die foon en verbreek die konsentrasie.
Die rekenaar neem net soveel tyd in beslag. Aanvanklik is vertel hoeveel tyd hy jou sou spaar. Moenie glo nie. Om net deur jou pos te werk en tussen al die gemorspos die relevante te behou kan ure neem. En dan is nog ʼn nuusberig of ʼn skinderstorie, ʼn artikel of ʼn toespraak wat jou aandag opeis en jou verlei om ʼn uur langer te “surf†as wat jy wou. En om jou epos-bus deur te gaan en skoon te hou vreet behoorlik jou ure op.
ʼn Mens sal nou moet leer om jou tyd by die rekenaar wys te spandeer sodat jy ʼn tydjie kan kry om die gemorspos in jou kop skoon te kry en jou jou geestelike “inbox†op te ruim. Knoop die los draadjies saam en vra jouself af: wat het ek geleer, watter wysheid het my toegeval en kon ek enige die situasies van die dag iets van die Here ervaar. Om in en met Hom te groei sodat jy al hoe meer die beeld van Christus dra is die belangrikste taak van die Christen.
En dit kom deur die skoonmaak van die ou pos, en die lees van die Boodskap van God af. Jy word alleen wys as jy jou dae beoordeel in die lig van God se Woord en sy wil vir jou en plesier daarin vind om sy wil vir jou uit te leef.
Gebed
Here, die tegnologie het die bepalende faktor in my lewe geword. Vergewe my dat ek so min tyd saam met u deurbring en dat ons verhouding daardeur skade ly en ek wysheid verbeur. Help my met die beplanning van my dag sodat ek meer by U kan kuier.