Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 3 Maart 2011

4. Die gebede van ‘n ma

Johann Symington

Skrifgedeelte:

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om jule sondige begeertes te bevredig nie. Rom.13:13-14.

Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Jak 5:17

Op ‘n dag in die jaar 387 is die groot kerkvader wat ʼn bepalende rol in die ontwikkeling van die geestelike denke van die Weste gespeel het, gedoop. Vir sy ma Monika, was dit ‘n verhoring van ‘n leeftyd se gebed.

Augustinus is in die jaar 354 in Noord-Afrika gebore. Sy pa was nie gelowig nie, maar sy ma was ʼn toegewyde Christen. Haar seun het egter rooi miere gehad: hy was ongedissiplineerd, meer in sport geïnteresseerd as skoolwerk en mal oor meisies. Soveel so dat hy op 18 ʼn pa word. Dit maak hom nie meer verantwoordelik nie. Hy jol steeds rond en geniet die lewe. Intussen bekommer sy ma haar morsdood oor hom maar gee nie moed op nie. Sy bly vir hom bid. Hy is toe later na Milaan toe. Ook hier het Augustinus probeer wegglip sonder sy ma se wakende oog, maar sy was te slim vir hom en toe hy hom kon kry was sy ook in Milaan. Daar het sy ma naderhand by die ou groot en wyse Ambrosius gaan kla en is toe getroos met die woorde wat ons as bekommerde ouers gerus kan onthou: “Dit is nie moontlik vir ‘n seun  vir wie daar so baie gebid word om verlore te bly nie.”

In die tyd het Augustinus, toe al ʼn bekwame en wydgeleerde man in ʼn vriend se tuin gesit en lees toe hy ‘n kind hoor sing:  “Neem en lees!” Hy het die Bybel by Romeine 13 by ons teksgedeelte oopgemaak, en net daar tot bekering gekom. Ambrosius het hom, en sy seun toe op die dag gedoop, terwyl ʼn getroosde moeder (God verhoor gebed) dankbaar toegekyk het. Haar gebed van ‘n leeftyd het vir een van ons groot geeste in die kerk gesorg.

Ouers, hou moed. Bid sonder ophou.God verhoor gebede.Al is dit op sy eie tyd.

Gebed:

Ek besef  om vir my  kind te bid is so belangrik  as om vir hom sy daaglikse brood te gee.  Gee dat ek as ouer nie my plig sal versaak nie.

Previous article: Vers n dag - 4 Maart 2011 Prev Next article: Vers n dag - 2 Maart 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.