Vers n dag - 2 Maart 2011
3. Die vrees van die Here
Johann Symington
Skriflesing
As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?
Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word. Psalm 130:4
In die oë van God is die mens nie so wonderlik soos wat hy dink hy is nie. Hy dink aan ons as sondaars wat pal sy opdrag om Hom bo alles lief te hê met alles wat binne-in ons is verontagsaam. Ons staan dus skuldig voor sy aangesig.
In die psalm word van die “vrees van die Here†gepraat. Dis ‘n begrip wat heelpartykeer in die Ou Testament gebruik word. In verskillende kontekste kan dit verskillende dinge beteken. Dit kan egter ook ondermeer beteken dat die mens nie vanselfsprekend voor die aangesig van God kan staan en bly leef nie. Telkens lees ons in die Ou Testament dat mens kan nie God sien en bly leef nie. Daarom is ons so bang vir God - vrees ons Hom.
Die teks praat egter ook van die “vergifnis†van God. Dit plaas die vrees vir God in ʼn nuwe lig. Hy is nie die ongenaakbare in ons sondigheid voor Hom nie. Die hele boodskap van die Nuwe Testament bevestig tog Sy liefde en sy trou.
Hoe moet ons nou die “Vrees van die Here†verstaan? Soos ons teksvers: om Hom te vrees beteken om Hom te vertrou, lief te hê en te aanbid. Dit is nie ʼn vrees wat jou op hol jaag nie, maar meer iets van ‘n heilige respek, ʼn agting vir die Een wat jou onvoorwaardelik liefhet, ʼn aanbidding van hom wat jou juis nie kom veroordeel het nie, maar uit die ellende in en deur sy Seun kom red het.
Ons vrees hom dus nie meer soos in die gebruiklike sin van die woord nie. Inteendeel. Alhoewel Hy nog die Heilige bly en ons sondige, sterflike wesens, noem ons Hom nou Vader en voel ons danksy Jesus veilig by Hom.
Gebed:
Here, ek vrees u maar ek is nie bang nie want U is ʼn Vader wat sy kinders liefhet en vergewe.