Dringend op soek na die betekenis van die lewe? - 9 Maart 2017
Hennie Symington
Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het gesien dat God aan die mens ʼn taak gegee het om hom mee besig te hou ... maar hy het ook aan die mens ʼn besef gegee van die onbepaalde tyd. Prediker 3:9-11
Daar is tye in elkeen van ons lewens dat ons saam met die digter van die Prediker-boek moedeloos raak oor die oënskynlike sinloosheid van die lewe, ten spyte daarvan dat ons glo dat God alles goed en reg geskape het.
Inderdaad, God se weë is anders as ons weë. As mensekinders wonder ons oor die weg van die wêreld, die wat en die waaroms. Dit is die prys wat ons as mens wat die konsep van die ewigheid in ons harte dra, betaal. Dit is wat van ons, volgens Psalm 8, amperse engele maak.
Hoe hanteer ons as amperse engele die seisoene van die lewe? Soms vind ons die lewe opwindend en dinamies en verbeel ons ons is in beheer. Ander tye weer wens ons soos koning Dawid dat ons kon weg vlieg op die vlerke van ʼn duif om ons omstandighede te ontvlug. So maklik is dit nie. Om te kan leer hoe om verandering en moeilike omstandighede die hoof te bied, moet ons bedag wees op die seisoene van die lewe. As ons nie verstaan en aanvaar dat seisoene kom en gaan nie, kan ons dit wat in ons lewens gebeur en die redes daarvoor verkeerd interpreteer.
Gebed: Here, soms voel ek so lig soos ʼn veertjie, en by tye weer so beswaard. Herinner my aan die vreugde van die lewe sodat ek sal onthou om U te loof vir die wonder van die lewe. Amen