Wanneer ons visie te kort skiet - 10 Maart 2017
Hennie Symington
Wat was, sal weer wees, Wat gebeur het, sal weer gebeur ... Prediker 1:9
Is dit nodig om die siniese oogpunt van die Prediker in die Bybel te deel om iets van die wêreld te verstaan? Is dit waar dat daar niks nuuts op die aarde is nie? Is dit waar dat wat reeds gesê is ʼn duisendmiljoen keer herhaal is deur wysgere deur die eeue?
Ek weet nie, maar een ding weet ek, en dit is dat die mensdom van meet af gebuk gaan onder dieselfde tekortkoming: ons ly almal aan geestelike kortsigtigheid en genetiese geheueverlies. Veral in tye wanneer ons gesondheid, geldsake, vriendskappe of ons huwelike nie goed lyk nie, wonder ons wat God se plan met ons is. In sulke tye vra ons dikwels benoud: waarheen is God op pad met my? Wat wil Hy van my hê? Hoekom doen Hy dit aan my?
Hierdie vrae duik selde of ooit op wanneer dit met ons goed gaan. Ons neem die goeie tye as vanselfsprekend aan en merk eers heelwat later dat God ons mooi maak deur al die pyn en lyding in ons lewe. Dit is veral in moeilike tye dat ons karakter die meeste groei. Trouens, dis moeilik om geestelik te groei wanneer alles voor die wind gaan. Miskien is dit een rede waarom God verskillende seisoene in ons lewens toelaat waar ons moet swaar kry en wanneer dinge nie in ons skoot val nie.
Gebed: Heer, ons erken dat ons lewens meestal ʼn gejaag na wind is terwyl ons dit wat werklik saak maak dikwels deur die vingers laat glip. Open die vensters van die siel sodat ons bewus kan raak van U ewige teenwoordigheid binne in ons. Amen