Eendag was daar... - 8 Maart 2017
Hennie Symington
... daar is ʼn tyd om gebore te word, ʼn tyd om te sterwe, ʼn tyd om te plant, ʼn tyd om plante uit te trek. Prediker 3:2
Stel jou voor, jy het die keuse gehad om jou lewensverhaal te begin soos ʼn feëverhaal met die woorde “Eendag was daar...” Die manuskrip wat jy in jou gedagtes voorstel, is gevul met vreugde, liefde, rykdom en al die goeie dinge wat die lewe jou kan bied. Wie sou dit oorweeg om slegte tye, verlies en hartseer by hierdie feëverhaal in te vleg?
Helaas, die realiteit van die lewe is dat dit voorsiening maak vir elke seisoen en vir elke aktiwiteit onder die son. Oor die jare heen word ons lewens gekenmerk deur talle veranderings wat gepaard gaan met wins en verlies, nuut begin sowel as eindpunte. Hoe ons hierdie veranderings hanteer is natuurlik die groot vraag wanneer ons uiteindelik ons eie “en hulle het vir ewig gelukkig saam gelewe ...”onder aan ons storietjie moet skryf.Ongelukkig is die verloop van die verhaal en die einde nie altyd soos die prins en die prinses dit voorsien het nie.
Die troos is: Ons is nie die eerste of die laaste generasie wat hierdie dinge bedink het nie. Koning Salomo, ʼn baie wyse man, volgens wat ons in die Woord lees, het ook diep nagedink oor die wel en die weë van die mens. Wanneer ons die prediker se boek lees, kom ons te staan voor die seisoene in ons eie lewe wat afgewissel word deur verandering, verlies, en dank God, ook tye van opbloei en groei.
Gebed: Vader God, dankie dat U daar is vir ons deur al die seisoene van ons lewens, en dat U betekenis aan ons lewens gee, binne en buite seisoene. Amen