Staan vas in elke seisoen - 7 Maart 2017
Hennie Symington
“Verkondig die woord; hou daarmee vol; tydig en ontydig …” 2 Timoteus 4:2
Soos mense deur die eeue heen, in tye van voorspoed en tye van teëspoed, is dit nie altyd vir ons beskore om die sin daaragter te peil nie. Daar sal altyd tye in ons lewe wees waar dinge klopdisselboom gaan, sowel as tye van uiterste lyding en verandering. Wees dus voorbereid op elke seisoen. In die boek van Spreuke word ons gewaarsku om nie soos die luiaard te wees wat nie in seisoen ploeg nie en dan verwag om te kan oes in die oestyd.
Leer dus om die tekens van die seisoen raak te sien en die arbeid wat elke seisoen vereis af te handel. Soms kyk ons die tekens van die seisoen wat ons dwing om aan te beweeg of om van koers te verander, mis.
Soos wat ʼn mens ouer word, is die uitdaging om jou taak te voltooi en uit te sien na ʼn “laatoes”. Raak stil en reflekteer op hoe jou lewe gevorm is deur te saaitye en talle oeste oor die jare – soms ʼn yl oes en ander tye weer ʼn rekordoes – afhangende van wat jy ingeploeg en die omstandighede rondom die oes.
Leer uit elke uit elke seisoen waarin jy jou bevind en aanvaar dat daar in elke seisoen ʼn les opgeteken staan. Wie weet watter seëninge God vir ons beplan? Dalk lê die beste seisoen nog voor. Daarvan kan ek getuig toe God ʼn laatoes tot my lewe gevoeg toe Hy ons na Japan geroep het.
Wat van jou, liewe Vers-'n-dag-leser? Is jy gereed om die ploegskaar en die sekel op te hang? Dink weer. Ons tye is in God se hand.
Gebed: Here, u trou strek verder as enige seisoen waarvan ons kan droom. Die werk van ons hande Here, sal voortgaan tot die dag dat U ons huis toe roep. Laat ons intussen binne of buite seisoen, u werk doen volgens u wil. Amen