Ja, slegte dinge gebeur wel met goeie mense - 6 Maart 2017
Hennie Symington
“So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.” Genesis 8:22
As dinge in jou lewe skeefloop, beteken dit nie jy is ʼn slegte mens nie. Dis beteken slegs dat slegte dinge wel met goeie mense gebeur. Vat nou maar vir Job. Hy het meestal goeie seisoene ervaar maar word onthou vir die ontsettende hartseer, pyn en verliese wat hy gely het. Tog was hy beskou as ʼn regverdige mens. Moet dus nie aanvaar dat jy slegter of sondiger is as ander wanneer jy deur moeilike tye gaan nie.
Onthou, so seker as wat daar vonke uit ʼn perd se hoef slaan, so seker kan jy wees dat slegte dinge kan gebeur! Aanvaar dat daar seisoene van goed en kwaad sal wees tot die wederkoms. Moet dus nie te veel tob oor negatiewe dinge wat gebeur nie. Trouens, moenie toelaat dat die seisoen waarin jy jou bevind definieer wie en wat jy is nie. Mense maak dikwels onwyse besluite in swaar tye. Pas dus op watter betekenis jy aan die sekere tye in jou lewe heg.
Wanneer jy deur moeilike tye gaan, aanvaar en glo dat God daar is en dat dit nie die tyd is om wilde stellings oor God en sy doel met jou te maak nie. Die waarheid is, God se planne verander nie soos die seisoene nie. God is altyd daar en is steeds by jou, of jy jou in ʼn pondok, ʼn paleis of tronk bevind. Dikwels, as ons terugkyk oor ons lewe, verstaan ons waarom sekere dinge nie uitgewerk het volgens ons planne nie.
Gebed: Here, weerhou my daarvan om wrokke te koester en leer my om afskeid te neem van ou koeie. Maak my vry om te vergewe en lief te hê soos wat U ons geleer het. Amen.