Moenie terugkyk in woede nie - 3 Maart 2017
Hennie Symington
Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Efesiërs 4:32
Wanneer mense na aan ons deur moeilike tye gaan sê ons graag: “Dit sal ook verbygaan.” In baie gevalle is dit waar. Soos ʼn muntstuk wat twee kante het, het die lewe ook sy verskillende kante. Goeie seisoene gevul met talle seëninge duur nie verewig nie. Net so met die slegte tye.
Wanneer iemand wat jy liefhet en op gereken het jou egter ʼn streep getrek het, is jy ontsteld, hartseer en verward. As jy egter aanhou tob oor die pynlike situasie of gebeure, maak jy plek vir woede en wrokke wat diep in jou siel wortel skiet en voor jy weet word alle positiewe emosies wat jy nog in jou hart koester oorgeneem deur negatiewe gevoelens. Dis nie lank nie of jy word totaal ingesuig deur bitterheid en ʼn gevoel van onreg. Wrokke het ʼn manier om jou onkapabel te maak om enige nuwe situasie of verhouding wat na jou kant toekom, te kan geniet.
Vir die meeste van ons is dit moeilik om te vergewe en te vergeet. Ons almal is bewus van die pyn en lyding rondom ons. Tog belas ons ons met wrokke deur die hartseer, vernederings en onenigheid wat ons lewens kenmerk te koester asof dit gister gebeur het. Laat dit gaan, sê die Woord.
Wat doen wrokkigheid aan jou? As jy nie kan vergewe nie, beduiwel jy elke verhouding en nuwe ervaring met woede en bitterheid. Jy raak so vasgekoek in die wrok, dat jy nie jou lewe hier en hou kan geniet nie. Om mens te wees beteken om die goeie met die slegte te aanvaar in die geloof dat alles ten goede sal uitwerk. Dit is die versekering wat ons in God se Woord ontvang.
Gebed: Here, ons is tog so lief om wrokke te koester. Ons hou daarvan om ons self te regverdig. Bevry my Here, van die dinge wat my beroof van lewensvreugde en genot. Amen