Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 24 Februarie

HUIDIGE REEKS: GELOOF, HOOP, LIEFDE.

DAG 9: GOD KAN JOU OOK VRYMAAK

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Ek ontvang gereeld e-posse van lesers wat vertel hoe ’n verslawing of depressie (hulle eie of dié van ’n geliefde) hulle lewens affekteer. Hier is ’n getuienis van Elize Beukes wat vertel hoe God haar van depressie bevry het.]

Elize: “Van jongs af was depressie deel van my lewe. Ek kan onthou hoe ek as kind liewer wou sterf as om met die magtelose, terneergedrukte gevoel aan my binneste te leef. My oumagrootjie het probeer selfmoord pleeg, maar het oorleef. My ouma het dieselfde roete gevolg. Sy was egter suksesvol. In graad 8 reeds het ek in my dagboeke begin beplan hoe ek my eie lewe wou beëindig.

“In graad 11 het my ouers my na ’n psigiater geneem. Hy het vir my antidepressante voorgeskryf. Vir weke daarna het ’n sielkundiges probeer vasstel waar die depressie begin het. Het ’n troeteldier dalk gesterf? Is ek op skool geboelie? My antwoord op al hierdie vrae was “nee”. Tog het my lae selfbeeld my lewe oorheers. Ek was goed in akademie, maar as iemand beter as ek presteer het, het dit my platgeslaan.

“Op universiteit het ek ’n oordosis pille gedrink. My geskokte kamermaat het my in die bed gekry waar ek na my asem gehyg het. Sy was woedend en het gesê dat as ek nie gou beter lyk nie sy ’n ambulans sou bel. Deur God se genade is ek nie gehospitaliseer nie en kon my liggaam die gifstowwe betyds uitwerk.

“Ek was 21 jaar oud toe ek vir Johan ontmoet het. Hy was my eerste groot liefde. Na net drie maande saam het die depressie weer die oorhand gekry en ek het myself by ’n psigiatriese hospitaal ingeboek. Johan kon net daar die hasepad gekies het omdat hy niks van depressie geweet het en niemand in sy gesin daarmee gesukkel het nie. Tog het hy my deurentyd bygestaan. God was nog nie deel van my lewe nie en hoewel die tyd in die hospitaal gehelp het, sou die donker emosies my telkens oorweldig. Ek en Johan is later getroud en ons het saam besluit dat ons weens my depressie liewers nooit sou kinders hê nie.

“Twee jaar gelede het iemand ons na ’n reeks geestelike praatjies genooi. Ek en Johan het dit geniet en mettertyd ’n persoonlike en dieper verhouding met God begin begeer. Ons het ons lewens opnuut aan Hom oorgegee en ’n pad saam met Hom begin stap. Kort hierna het ons met ’n wonderlike paartjie bevriend geraak saam met wie ons gereeld vir volkome oorwinning oor my depressie gebid het. Ek het besef my familie is vir dekades deur ’n gees van depressie en selfvernietiging gehinder. Ons het spesifiek gebid dat deure toegemaak sou word wat wetend of onwetend deur my voorouers oopgemaak is. In die proses het ek vryheid ervaar.

“In November 2009 het ek onder toesig van my psigiater begin om die medikasie te verminder tot waar ek in Februarie na 16 jaar eindelik my laaste pil geneem het.

“Waar ek en Johan teen die einde van verlede jaar in die dokter se spreekkamer na ons ongebore baba se hartklop oor die sonar geluister het, het trane van verwondering en dankbaarheid oor ons wange gestroom. Nie net het God my van depressie bevry nie. Hy het aan ons ’n nuwe lewe vol hoop en drome vir ’n wonderlike toekoms gegee!”

Johannes 8:36: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”

Is daar dalk ’n patroon van depressie of verslawing wat jou familie pla? Dalk is joune nie depressie nie, maar wel drank, pornografie, buite-egtelike verhoudings of egskeiding? Net soos God vir Elize volkome genees en vrygemaak het, kan Hy dit ook vir jou (of jou geliefde doen) doen. Jesus het immers vir ons aan die kruis gesterf om ons finaal vry te koop! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die belofte dat ek volkome vryheid van (noem die spesifieke uitdaging) kan ervaar. Maak asseblief alle deure wat wetend of onwetend deur my voorouers geopen is toe en maak my totaal vry. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Elize en Johan se seuntjie behoort in Maart te arriveer. Kyk gerus na ’n foto van hulle op STORIES VAN HOOP se bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper.

NUUSBROKKIES:

  1. ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

  1. BOEKTEKENING: Benescke Janse van Rensburg teken boeke by die Paarl Boekefees:

    1. 12 Maart 2011: Paarl. Vir meer inligting, kontak This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

  1. MOTIVERINGSPREKER: Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

    1. 26 Maart 2011: Stellenbosch. Vir meer inligting, kontak Issie Jacobs by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

    2. 13 Mei 2011: Nieuwoudtville. Vir meer inligting, kontak Heidi van Niekerk by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

Previous article: Vers n dag - 25 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 23 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.