Vers n dag - 18 Februarie
HUIDIGE REEKS: GELOOF, HOOP, LIEFDE.
Â
DAG 5: GOD GEE TWEEDE KANSE . . .
Deur Benescke Janse van Rensburg
Â
[Agtergrond: Soms veroorsaak ’n teleurstelling uit die verlede dat ons hoop vir ’n deurbraak in die toekoms begin verloor. By God is daar egter altyd tweede kanse op geluk. Adri Ludick vertel hoe sy dit in haar lewe beleef het.]
Â
Adri: “My ouers is albei amper 80 jaar oud en hulle sprankel steeds oor mekaar. Net soos almal rondom hulle, het ek baie respek vir hulle huwelik en van kleins af het ek gebid dat God my sou help om dieselfde huweliksgeluk te vind.
Â
“Ek is op ’n laat ouderdom met ’n weduwee met vier kinders getroud. Hoewel ek baie lief vir die kinders was, was dit ’n groot ontnugtering om te besef dat my man my eerder as ’n ma vir sy kinders gesien het, as ’n vrou wat begeer, gekoester en versorg wil word. Telkemale sou ek vir God sê dat ek soos ’n Aspoestertjie gevoel het. Na agt jaar is ons geskei.
Â
“Die seer van die mislukte huwelik het veroorsaak dat ek myself van alles en almal wou afsny. Ek wou nie kerk of winkels toe gaan nie. As ek wel winkels toe gegaan het, het ek skaam agter die winkelrakke weggekruip. My ouers en familie se onvoorwaardelike liefde en ondersteuning het my deur hierdie moeilike tyd gedra.
Â
“Na ’n tydperk van rou, het ek besluit dat ek my lewe agtermekaar wou kry. Ek het weer begin oefen en het daagliks vroegdag saam met God tyd spandeer. Ek het sy beloftes nuut ontdek en my lewe daarvolgens begin rig.
Â
“Drie vroue uit die Bybel het my in hierdie tyd geïnspireer: Hanna, Ester en Rut. Soos die kinderlose Hanna vir ’n kindjie gesmeek het, het ek God gesmeek dat Hy vir my die regte lewensmaat sou stuur. Soos Ester deur ’n twaalf maande voorbereidingstyd gegaan het voordat sy die koning ontmoet het, het ek vir God gevra om my voor te berei dat ek gereed sou wees as ek my man ontmoet. En soos Rut haar skoonma gevolg het en later vir Boas ontmoet het wat hom oor haar ontferm het, het ek gebid dat God vir my ’n man sou stuur wat my sou koester en hom oor my sou ontferm.
Â
“Tydens ’n vakansie in die Okavango het ek besef dat ek nog baie woede en onvergifnis in my hart saamdra. In trane het ek vir God gevra om my te help om die verlede agter te laat en almal te vergewe wat ek voel my te nagekom het. Ek kon ’n duidelike verligting in my gees na daardie vakansie voel.
Â
“’n Paar maande later, op ’n aand wat ek dit die minste verwag het, het Xen met ’n groot bos blomme voor my deur gestaan. Gemeenskaplike vriende van ons het hom aangemoedig om vir my te kom kuier. Ons het onmiddellik gekliek en was gou onafskeidbaar. Ons het saam getoer, saam gebid, saam gelag en Xen het my gekoester en na my omgesien.
Â
“’n Jaar en ’n half later, op ’n boot buite Venesië, het Xen my gevra om sy vrou te word. Toe ek nege maande later met ons troue in die kerk se paadjie afstap na waar Xen op my wag, het Elisabeth Eybers se woorde deur my gedagtes weergalm: ‘Al die drome van my kindertyd het teruggekeer en in my oë het jy sterre aangesteek. . .’ God het my gebed verhoor en aan my ’n sprokiestroue en toekoms gegee!â€
Â
1 Petrus 5:10: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.â€
Â
God beloof dat Hy ons uit ons seer sal oprig, versterk en bemoedig om staande te bly. Vandag, vyf jaar later is Adri en Xen steeds dolgelukkig en vertel sy dat God werklik haar wildste verwagtinge vir ’n lewensmaat oortref het. Hou net jou oë op Hom. Hy kan dieselfde ook vir jou doen! Sterkte.
Â
Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my hede en toekoms. Lei my asseblief om volkome op U te vertrou met die wete dat u deurbraak op die regte tyd kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Â
** Sien foto van Adri en Xen op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
Â
**Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper by Radiokansel.
Â
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
Â
-
BOEKTEKENING: Benescke Janse van Rensburg teken boeke by die Paarl Boekefees:
-
-
12 Maart 2011: Paarl. Vir meer inligting, kontak
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
-
Â
-
MOTIVERINGSPREKER: Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
-
-
26 Maart 2011: Stellenbosch. Vir meer inligting, kontak Issie Jacobs by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . -
13 Mei 2011: Nieuwoudtville. Vir meer inligting, kontak Heidi van Niekerk by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
-
Â
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
Â
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
Â
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus
Â
Â