Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 Februarie

HUIDIGE REEKS: GELOOF, HOOP, LIEFDE.

 

DAG 4: GLO JY SOOS HIERDIE OFFISIER? (Mattheus 8)

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Wanneer jy vir ’n deurbraak in jou lewe bid, doen jy dit met volle geloof en vertroue? Of bid jy, maar stap dan weer weg met twyfel en stres in jou hart omdat jy nie volkome oortuig is dat God jou gebed kan verhoor nie?]

Kom vir ’n oomblik saam met my terug in tyd. Sien jy hoe die mense op die markplein in Kapernaum rondom Jesus saamdrom? Sien jy sy glimlag terwyl hy met hulle gesels? Liefde straal behoorlik uit Hom uit.

Kyk nou daar eenkant. Sien jy die Romeinse offisier in sy uniform geklee wat alleen onder die boom staan? Dit is duidelik dat hierdie man ’n hoë posisie in die weermag beklee. Luister na sy woorde wanneer hy minute later met Jesus praat: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” Jesus antwoord hom onmiddellik: “Ek sal hom kom gesond maak.”

Die offisier se reaksie op Jesus se woorde kom egter as ’n verrassing: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook ’n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

Hierdie offisier het verstaan hoe belangrik geloof is wanneer ons God vir ’n wonderwerk vra. Luister weer na hierdie twee beginsels wat Jesus met die mense gedeel het:

Mattheus 17:20: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Markus 11:24: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Kom nou terug na die markplein en luister na Jesus se reaksie op die offisier se woorde: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie. . .” Dan draai Jesus na die offisier met hierdie woorde: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” Op daardie oomblik was die offisier se slaaf genees.

Ek wil jou weer vra: Wanneer jy bid, vertrou jy soos hierdie Romeinse offisier volkome dat God jou gebed hoor en dat Hy onmiddellik jou deurbraak kan bewerkstellig? Of bid jy, maar stap dan weer weg met ’n hol kol op jou maag en twyfel in jou hart of God werklik vir jou kan deurkom? Onthou Jesus se woorde: Met geloof soos ’n mosterdsaadjie kan jy berge versit. Alles begin by jou geloof. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ek bid onmiddellik hoor. Help my om soos hierdie offisier glad nie te twyfel, maar eerder met geloof uit te sien na u antwoord wat ek weet op die regte tyd sal kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n vryskutskrywer en radio-omroeper by Radiokansel.

NUUSBROKKIES:

  1. ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

 

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

 

Previous article: Vers n dag - 18 Februarie Prev Next article: Vers n dag - 16 Februarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.