Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (17) - 25 Julie 2016
Die Bybel is jou handleiding vir die lewe! Miljoene Christene dwarsoor die wêreld glo dat die Bybel die Woord van God is. Hulle lees dit gereeld, bestudeer dit en beskou dit as ʼn riglyn vir hulle lewens.
In Psalm 119:105 sê die Psalmdigter: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
Die apostel Paulus bevestig die waarde wat die Woord in ons lewens het:
Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. Romeine 15:4
Die Bybel praat met jou, maar dit is nie soos ʼn gewone handleiding of ʼn webwerf wat netjiese antwoorde en kitsoplossings vir verskeie vrae en probleme gee nie. Die Boek praat met jou wanneer jy gereed is om die Woord van God te hoor en dit deel te maak van jou daaglikse lewe.
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Hebreërs 4:12
Die Bybel is jou GPS, 'n wegwyser. Die Bybel bevat ʼn hele reeks kwessies, gebeurtenisse en werklike situasies waarmee lesers vandag nog gekonfronteer word. Baie van hierdie vrae word beantwoord deur voorbeelde, raad en vermaning asook direkte instruksies. As dit soms voel of daar nie ʼn gedeelte in die Bybel is wat op ʼn spesifieke situasie toegepas kan word nie, is daar gewoonlik ʼn breër raamwerk van beginsels wat as riglyne gebruik kan word, soos die eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Dit verwys nie net na beelde van afgode nie, maar ook na enige besitting of voorwerp wat ʼn mens bo God sal kies.
Die Bybel is soos ’n spieël. Dit is nie net ʼn gewone selfhelpboek nie; dit is ook ʼn Boek waarin ons onsself kan herken en God leer ken, soos gelowiges deur die eeue heen gedoen het. Om die boodskap van die Bybel te glo en dit deel van jou lewe te maak, is uiteindelik ʼn saak van geloof.
Gebed: Here, dankie vir die gawe van u Woord. Dankie vir die Bybel in my taal, dat U woord die lamp is wat vir my die weg wus, die lig op my pad. Ek loof en prys u Naam. Amen