Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (16) - 22 Julie 2016
Daar is 'n aantal sake oor gebed wat die Bybel vir ons duidelik maak en wat ons in ag moet neem.
Gebed weerhou jou van sonde.
Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Matteus 26:41
Om saam met ander te bid, beteken dat jy in goeie geselskap is.
... want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Matteus 18:20
Gebed gee jou krag in moeilike omstandighede.
Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee. Psalm 138:3
Gebed is nie onderhandelbaar nie.
Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. Daniël 6:11
Vergifnis kom deur gebed.
Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Psalm 51:3-4
Wanneer ons oor gebed praat kan ons nie nalaat om die klassieke gebed in die Bybel te noem nie. Dikwels weet ons nie wat, of hoe, om te bid nie. Christus het vir ons ʼn belangrike gebed gegee wat Christene oor die eeue heen gehelp het en vandag steeds help.
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.” Matteus 6:9-13
Gebed: Here Jesus, dankie vir die gawe van gebed en vir dit wat U ons daaroor leer. Dankie dat ons direk tot ons Vader in die Hemel kan bid. Amen