Padkaart vir die lewe – wysheid vir die lewenspad (15) - 21 Julie 2016
Gebed is noodsaaklik vir die lewenspad. Maak gebed jou voorkeurtaal. Gebed is die lewensaar van jou geloof. Dit skep ʼn bewustheid van die heilige in jou en van die teenwoordigheid van God in alles wat jy doen. Gebed is net so belangrik soos asemhaal.
Dit bring jou nader aan die teenwoordigheid van die lewegewende God.
In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Lukas 6:12
Raadpleeg jou Skepper gereeld. Jy mag ʼn punt in jou lewensreis bereik waar jy alles begin bevraagteken wat jy geleer het by jou ouers, vriende en diegene wat ʼn rol in jou lewe gespeel het. Hou in gedagte dat God in beheer bly van jou lewe.
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Jeremia 29:11-13
Ellende wag vir dié wat dink hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here, hulle wat besig is om dinge in die donker te doen en dink: wie sien ons? Wie weet van ons? Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: “Hy het my nie gemaak nie”; die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie.” Jesaja 29:15-16
Onthou gebed is ’n gesprek met die lewende God. God hoor jou gebed al dink jy miskien nie altyd so nie.
O God wat aan my reg verskaf, antwoord my as ek roep. Toe ek in die nood was, het U my bevry. Wees my ook nou genadig en hoor my gebed! Psalm 4:2
Gebed: Here, dankie vir die gawe van gebed, dat ek enige tyd en plek met die lewende God kan praat. Dankie vir u Heilige Gees wat my help om in u Naam te kan bid al weet ek nie altyd wat om te sê nie. Amen