Vers-n-dag - 15 Januarie
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
Dag 5: HOE OM GOD VIR DIE DETAILS TE VERTROU?
Deur: Benescke Botha
Augustus 2009. Toe Marietjie Hurter uitvind dat haar geliefde Afrika-gryspapegaai, genaamd Blommie weggevlieg het, was daar trane. So ook toe sy ’n week later in die bad sit en terugdink aan haar geliefde troeteldier wat êrens weerloos in ’n boom se takke te midde van die koue Kaapse storms moet skuil.
Tot op daardie stadium het Marietjie alles in haar vermoë gedoen om die papegaai terug te kry. Sy het 4,000 pamflette met ’n foto van Blommie op gedruk en dit by die plaaslike skole afgelaai om te versprei. Sy het met elke polisiekantoor en veearts in die omgewing geskakel en selfs vir dae saam met haar bediende van huis tot huis in haar omgewing gestap om in die bure se tuine na haar papegaai te soek. Tevergeefs.
Was Blommie dalk reeds uit die omgewing? Was sy dalk al dood? ’n Klomp gedagtes het gelyktydig deur Marietjie se kop gemaal terwyl sy vir die soveelste keer met die agterkant van haar hand oor haar maskaragesmeerde wange gevee het om die trane uit haar oë te vee. Skielik het dit haar getref. Al het sy ook van die eerste oomblik af gebid dat God haar in hierdie soektog na Blommie moes lei, het sy nou in ’n doodloopstraat beland. Al wat oorgebly het, was om 100% op God te vertrou. Met ’n effense hees stem, het Marietjie stadig begin bid: “Here, ek weet dat U weet waar my Blommie is. Ek wil U asseblief vra dat die regte mense haar sal kry en dat hulle haar veilig aan my sal terugbesorg. En Here, ek vra ook dat dit asseblief so gou moontlik sal gebeur ... †Met ’n geruste hart het Marietjie daardie aand gaan slaap.
Vroeg die volgende oggend was daar ’n oproep na die Hurter-woning. Dit was een van die plaaslike veeartse in die omgewing. Blommie, die papegaai was pas by hom afgelaai. Die veearts het later vir Marietjie vertel dat van al die huise in Vierlanden, Durbanville, haar papegaai in ’n gesin se tuin beland het wat self ook ’n Afrika-gryspapegaai in die huis het. Omdat hulle geweet het hoe om die papegaai te benader (as hulle nie geweet het, sou die papegaai weggevlieg het), was dit nie lank voordat Blommie tot bo-op een van die seuns van daardie huisgesin se skouers geklouter het en hulle hom veilig na die veearts kon neem nie.
Hebreërs 4:13: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë.â€
Vir watter deurbraak vertrou jy vandag op God? Dalk ’n finansiële deurbraak voor die einde van die maand? Dalk dat God jou huwelik teen ’n lastige “derde persoon†moet beskerm? Of bid jy dalk al vir ’n geruime tyd vir ’n baba of huweliksmaat?
As God vir Blommie na die regte gesin se tuin in Vierlanden kon stuur sodat sy veilig aan Marietjie terugbesorg kon word, hoeveel te meer stel God nie ook in die details van jou situasie belang nie? Die vraag is dit (en wees eerlik met jouself): Vertrou jy God 100% met die saak of probeer jy steeds tevergeefs om uit jou eie krag te veg?
Vader God, baie dankie dat niks vir U verborge is nie. Ek bring vandag (wat jou uitdaging is) na U toe. Lei my asseblief om net soos Marietjie alles te doen wat ek moet, maar om dan 100% my geloof en vertroue net in U te plaas. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Kyk gerus na ’n foto van Marietjie en haar papegaai by die “Stories van Hoopâ€-groep op die sosiale netwerk, FB (ek skryf nie die volle naam uit nie, want sommige besighede se ‘servers’ blok dan die eposse).
PRAKTIESE RIGLYNE: “HOE OM GOD VIR DIE DETAILS TE VERTROU?â€:
- STAP 1: Ken God in die saak: Maak God van die begin af ’n vennoot in jou uitdaging. Vra Hom om jou deur sy Heilige Gees te lei om te weet wat om van jou kant af te doen – en wees gehoorsaam!
- STAP 2: Werk asof dit van jou afhang en bid asof dit van God afhang: Doen jou deel en vertrou 100% op God.
- STAP 3: Onthou om vir God dankie te sê sodra jou deurbraak kom: Vergeet jy soms om vir God dankie te sê as jy jou deurbraak gekry het? Waarom doen jy dit nie sommer vandag nie?