Vers-n-dag - 14 Januarie
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. (ons nuwe adres)
DAG 4: HOEKOM EN HOE OM TE VAS
Deur: Benescke Botha
Kort na die Asiatiese Tsunami op 26 Desember 2004 het Frank gevoel dat God hom lei om in Indonesië sendingwerk te gaan doen. Hoe en waar was egter steeds ’n duistere saak.
Aangekom in Indonesië het Frank vir die eerste vyf dae deur die strate van die stad gestap en verwoed probeer om met die plaaslike inwoners (hoofsaaklik van ’n ander geloof) oor Jesus Christus te gesels. Keer op keer moes hy egter in ’n toe deur vaskyk wat hulle in sy gesig toegeklap het. Ook in die straat sou die mense summier hulle rug op hom draai en wegstap.
Dit is teen die einde van die vyfde dag dat Frank moedeloos in sy hotelkamer op sy knieë neergesak het. Het hy homself verbeel? Het God hom ooit werklik na hierdie area gestuur? Hoe meer Frank egter met God gesels het, hoe sterker het die gevoel in sy hart geword dat hy vir die volgende 40 dae lank moes vas en bid terwyl hy op God gewag het. Hy het dit gedoen.
Toe Frank op dag 40 van sy vas en bid by sy hotelkamer uitstap was dit ’n totale ander prentjie. Nie net het elke persoon met wie hy oor Jesus Christus gesels het, intens geluister nie; die keer het almal tot bekering gekom. Eers terug by die huis, het God aan hom verduidelik dat hy in daardie 40 dae van vas en gebed ’n kragtige instrument in God se hand geword het omdat hy onwetend gehelp het om die geestelike lug te suiwer. Deur Frank se gebede is die bose magte van die vyand verdryf sodat God se lig in hulle lewens kon skyn (Efesiërs 6:12).
Wat is vas? Vas is ’n praktiese aksie waarin jy besluit om jouself vir ’n bepaalde tydperk van kos (en in sommige gevalle water ook) te weerhou met die doel om op God te fokus.
Hoekom vas ’n mens? Vas is NIE ’n towerformule nie. Dit help jou bloot om op God te fokus. Menige mense ervaar ’n geweldige verdieping in hulle geloof tydens hulle vastydperk. NB: Onthou egter dat God soewerein is. Hy het altyd die laaste sê. Fokus dus op Hom en berus jouself op sy antwoord vir jou situasie.
Hoe om te vas? In Matteus 6:16-18 gee Jesus hierdie riglyne oor vas: "As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas … Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon."
Drie tipes van vas:
- ’n Gewone vas: Met hierdie vas eet ’n persoon niks kos nie, maar drink wel water en/of vrugtesap.
- ’n Gedeeltelike vas: Met hierdie tipe vas pas ’n persoon sy of haar dieet aan deur spesifieke artikels uit te sny. Die Daniël-vas, waarin ’n persoon vars groente en vrugte vir 21 dae lank eet val onder hierdie kategorie (Daniël 10:2-3; Daniël 1:12). Klomp gemeentes doen die Daniël-vas gedurende die eerste 21 dae van ’n nuwe jaar om die jaar aan God op te dra. Ander dinge om uit te sny: sjokolade, 7de Laan, radio in jou kar op pad werk toe, ensovoorts.
- Die volle vas: Met hierdie vas eet of drink ’n persoon vir drie dae lank niks nie (Handelinge 9:9 en Ester 4:15-16).
Benodig jy ’n deurbraak in jou gesin, jou werkplek, jou finansiële situasie of selfs in jou huwelik? Waarom vas jy nie daaroor nie sodat jy vir ’n slag weer deur God se oë na jou situasie kan begin kyk?
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U sien wanneer ek vas. Gee my asseblief die krag en wysheid om steeds by U antwoord op my gebede te berus. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.