Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 November

Nuwe reeks: Ontdek God . . . van A-Z. Ons kyk elke dag na ’n ander letter en koppel dan God se eienskappe daaraan. Vandag is dit die letter “E”.


E = ENORM. (Lees meer van die interessante terugvoer van lesers onderaan. Stuur ook jou idees vir “F” na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..)


DAG 5: God is. . . ENORM

Deur Benescke Janse van Rensburg

Maandagoggend, net voor 03:00 was daar ’n geweldige slag in een van die woonbuurte in die dorpie, Schmalkalden, in Duitsland. Toe die inwoners die naaste aan die harde geluid uit hulle huise storm om te kyk wat aan die gang is, het ’n reusagtige slaggat van veertig meter by dertig meter hulle in die middel van die pad begroet. Wonderbaarlik is geen skade aan die sowat ses huise rondom die gat berokken nie.

Die slaggat van sowat twintig meter diep het egter met die invalslag ’n motor “ingesluk” en ’n ander motor het ná die slag oor die afgrond gehang – reg om na onder te tuimel.

Vir Duitsland was dit nie die eerste van hierdie misterieuse slaggate nie. Met die jare is soortgelyke, maar heelwat kleiner, slaggate gevind wat aan antieke myne ondergronds toegeskryf is. Kenners meen dat die gat in Schmalkalden veroorsaak is deur ’n ondergrondse skuiling wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebou is.

Dink jouself vir ’n oomblik in watter skok dit sal wees as jy niksvermoedend in die straat afry, net om die volgende oomblik saam met jou motor deur ’n reusagtige slaggat “ingesluk” te word as die grond onder jou padgee. Klink vreemd, nie waar nie? Tog, is dit nie presies wat soms in ons lewens gebeur nie? Een oomblik lyk en voel alles in ons lewens normaal, maar dan ontdek jy dat jou huweliksmaat ontrou aan jou is of ’n geliefde van jou word met ’n terminale siekte gediagnoseer of julle ervaar ’n finansiële ineenstorting of jou tiener breek die nuus dat sy swanger is of dat hy sy graad gedruip het. Skielik lê ’n reusagtige slaggat in jou pad en jy klou desperaat aan die afgrond om nie na onder in die gat te tuimel nie. . .

Ek wonder: Wat is jou reaksie te midde van so ’n onverwagse traumatiese situasie? Oorreageer jy? Skel en skree jy op die mense om jou? Bevraagteken jy hoekom God dit toegelaat het? Of besef jy dat Hy ENORM is en jou nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie? Besef jy dat Hy altyd in beheer is van elke situasie en alles ten goede kan en wil laat meewerk vir dié wat Hom liefhet?

Jeremia 32:27: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Jesaja 55:8-9: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

God ken ons elkeen se verlede, hede en toekoms. As jy dus vandag voel asof jy onder op die bodem van ’n slaggat sit, kan jy weet dat Hy nie net vir jou ’n tou sal afgooi om jou uit te trek nie. Hy sal jou ook uit die gat trek en dit opvul sodat jy veilig – en sterker – daaroor kan ry! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ENORM is. Ek loof en prys U dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Help my asseblief om in elke moeilike krisis my oë op jou te hou met die wete dat U my daardeur sal dra. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

* Kyk lugfoto van die slaggat op STORIES VAN HOOP bladsy of http://www.news24.com/World/News/Giant-German-pothole-swallows-car-20101101.

* Kyk video van slaggat: http://en.rian.ru/video/20101102/161184329.html


NUUSBROKKIE:

 

1.      WENNER VAN DIE WEEK:

  • Andrea van Heerden-Truter van Stellenbosch
  • Haar antwoord: B – BAKPOEIER. Met God in ons lewens kan ons tot nuwe hoogtes rys! Baie geluk Andrea. En baie dankie aan al die lesers wat deelgeneem het.
  • Andrea wen ’n getekende eksemplaar van Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense.

2.      BOEKBEKENDSTELLING: Benescke se boekbekendstelling met haar eerste boek, Ontdek God – in die stories van mense vind plaas op Donderdagaand, 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge winkelsentrum in Durbanville. As jy haar graag wil ontmoet en self ’n getekende boek wil hê, maak seker jy woon die bekendstelling by.

3.      HUIDIGE REEKS: Jy kan elke dag deelneem deur jou voorstelle vir elke letter na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies wat ’n getekende eksemplaar van Benescke se eerste boek, Ontdek God – in die stories van mense ontvang.


INTERESSANTE TERUGVOER VAN LESERS OOR “E”:

Hier is net ’n paar hoogtepunte. Gaan lees gerus van nog op ons webwerf, www.versndag.co.za.

  • EIENAAR: God is die Skepper en Eienaar van die Hemel en die aarde.
  • ENIGSTE: God is ons enigste hoop in hierdie verlore en sondige wêreld.
  • EWIG: God is vir ewig en altyd met ons
  • EMMANUEL: God met ons – ons is nooit alleen nie.
  • EMPATIE: (Dankie, Vader...)

  • ENIGE TYD: God het geen tyd nie.  Op sy horlosie is my en jou se gesig. Hy nooi ons om te enige tyd na Hom te kom.
  • EENVOUDIG: Vir God is niemand te eenvoudig nie, want Hy is nie ’n aannemer van persoon nie.
  • EIENDOM: God het my gevorm , my naam is op Sy handpalm, Sy bloed het my skoon gewas. Ek behoort aan Hom.
  • EEN-EEN: By God moet ons elkeen afsonderlik buig. Niemand kan in jou plek gaan staan nie.
  • ERFGENAAM: God beloof aan elkeen wat opreg wandel sy Hemelse Koninkryk.
  • ETIEK: God is ons etiek, die wetenskap van sedelike norme of wette.
  • EVANGELIE: God is ons evangelie, die blye boodskap, die leer van Christus, die ontwyfelbare waarheid
  • EWESO: God is eweso die Seun en die Heilige Gees.
  • ERFENIS: Ons erfenis van God is die belofte van ‘n Ewige Lewe.
  • EWIGE LEWE: Wanneer ons God aangeneem het as ons Hemelse Vader sal ons die Ewige Lewe beërwe – en ek sal ons verewig saam met Hom wees.
  • EINDE: God is die begin en einde van alles.
  • ETIKET: God is die etiket wat ons elke dag moet dra.
  • ENTSTOF: God is die entstof teen alles wat sleg is.
  • EUREKA! : As ’n verlore kind Hom vind! Hy is ons eindbestemming, dit waarna ons, ons hele lewe lank soek.
  • EERSTE LIEFDE: He must be our first love! Hy het ons ook eerste liefgehad.
  • EREGAS: God is die eregas in ons huis en my hart!


TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou onlangs of in die verlede deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons tema sal ons dit graag weer met die lesers wil deel. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 8 November Prev Next article: Vers n dag - 4 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.