Vers n dag - 28 Oktober
5.        Die koninkryk as ʼn gemeenskap van gelowiges
Hennie Symington
Skriflesing
Maar Moses het die volgende geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenare nou daar sien sal julle hulle nooit weer sien. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg. Eks. 14:13-14
Padlangs met God
ʼn Vriend vertel dat hy op ʼn keer ʼn ingrypende besluit oor sy gesin en sy werk moes neem. Toe die twyfel op sy hoogste is, droom hy die nag dat hy ʼn yslike bus in die nou strate van ʼn ou stad bestuur Hy’t behoorlik gesweet want elke keer as hy by ʼn straathoek kom en as hy moes draai het hy die ergste gevrees. Maar wonder bo wonder, het hy elke keer sy draai gekry net om kort daarna weer te begin twyfel en te begin glo hy gaan een of ander tyd gaan op ʼn ramp afstuur. Die eienaardige was dat hy keer op keer gevoel het soos ʼn klein seuntjie wat op die drywer se skoot sit. Terwyl hy gedink het hy bestuur die bus, en dat almal se geluk van sy bestuursvernuf afhang, was daar ʼn Groter Hand wat die draai met gemak gevat het.
Jy’s nie op jou “eis†nie.
Jy hoef nie alles wat oor jou pad kom alleen baas te raak nie. Daarom het die beginsel van netwerke wêreldwyd posgevat. Een mens het nie die kennis, vaardigheid of insig om sy totale wêreld te bestuur nie. Ons moet op mekaar leun en van mekaar se bekwaamhede gebruik maak om in ons komplekse wêreld te oorleef.
Nie een van ons al die antwoorde op elke situasie nie. Daarom is die gemeenskap van die gelowiges so belangrik. Dis die een plek waar ek mag vrae vra en my eie onsekerheid na vore bring en van raad en inligting bedien kan word.
Toets ook jou idees. Terwyl jy jou opsies bestudeer, maak gebruik van jou geliefdes se geduld om jou uit te luister, kritiek te lewer, insette te maak en jou op die regte pad te hou. Kry jou gesinslede aan jou kant. Jy is van hulle ondersteuning afhanklik. In hulle gebede dra hulle jou en met hulle liefde bewapen hulle jou om die veranderinge in jou lewe die hoof te bied.
Maar bowenal aanvaar dat jy in God se hand is. Hy sal jou nie op ʼn pad lei en dan toelaat dat jy die dieptes instort nie. Hoe weet jy dit? Kyk terug oor jou lewe en kyk waar God gehelp het toe jy nie kon nie.
Gebed:
Here, ons weet nie altyd wat vir ons voorle nie. Dankie dat u die pad wys waar ons nie kan sien nie. Dankie dat u altyd u hand op die stuur hou wanneer ons dink ons ken die pad. Amen.