Vers n dag - 16 September
HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS
DAG 9: HERKEN DIE VERSOEKING. . . (DEEL 1)
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Ligte windjie speel deur Dirk se hare waar hy doelgerig in die straat afstap. ’n Entjie voor hom gaan staan die aantreklike vrou weer. Sy draai na hom en wanneer hulle oogkontak maak, glimlag sy voordat sy om nog ’n hoek verdwyn. Dirk se hart mis ’n slag. Hy het nog nooit voorheen só ’n mooi vrou gesien nie. Nog nooit was sy begeerte om tot by haar te kom só groot nie. Met al hoe groter treë stap hy nou soos ’n perd agter ’n verleidelike wortel aan. Hy moet by haar uitkom. Hy móét meer van haar sien.
Op die oog af lyk hierdie situasie onskuldig: ’n Man wat ’n aantreklike vrou gewaar en haar graag beter wil leer ken. As jy egter dieper delf, sal jy uitvind dat Dirk getroud is met twee kinders by die huis. Jy sal ook vind dat die aantreklike kollega van hom ook getroud is. Weke lank het sy hom met haar verleidelike praatjies en komplimente betower. Hy het dit aanvanklik as onbenullig afgemaak wanneer sy haar flikkers vir hom gegooi het. Nou, hier in die straat, bruis die adrenalien deur sy are. ’n Stem binne hom skree dat hy moet omdraai, maar die passie en begeerte binne hom dryf hom vorentoe.
Om nog ’n draai, deur nog ’n donker stegie, op teen die trappe. Dan bereik hy die woonstel – hul plek van ontmoeting. Sy hart klop vinnig. Hy haal ’n slag diep asem voordat hy die deur oopstoot en saggies agter hom toetrek.
Skielik tref die donkerte in die vertrek hom. ’n Koggelende lag klink uit die hoek uit op. Wat maak hy hier? ’n Koue rilling skiet teen sy ruggraat af. Hy draai om, om uit die kamer te vlug, maar die deurknop het verdwyn. Hy wil uitskree, maar die vrees druk sy keel toe. In die flou straatlig wat deur die venster instroom sien hy nou die stapels geraamtes van mans wat voor hom na dieselfde vertrek gelok is. Bewend kyk hy op. Voor hom staan die beeldskone kollega wat nou in ’n bose gedrog verander het!
Ek wonder: Het jy in die vyand se strik getrap of kies jy om te alle tye jou huwelik teen die bose se aanvalle te beskerm?
Satan en sy trawante loop rond soos ’n brullende leeu opsoek na maniere om Christen huwelike op te breek. Vir eeue lank al trap Christene in dieselfde lokval. Aanvanklik dink ’n mens dat jy ’n “onskuldige vriendskap†met ’n kollega, vriend of vriendin kan aanknoop terwyl jy in jou hart wéét dat jy nie kan wag dat sy op jou e-posse moet reageer of dat hy jou moet SMS nie. Mettertyd begin jy dagdroom van ’n lewe buite jou huwelik. Jy raak makliker geïrriteerd met jou huweliksmaat. Jou huwelik lei daaronder. Onwetend word jy soos Dirk al dieper en dieper in die lokval ingelei. Sy wuif na jou, jy glimlag vir haar en God sien alles. Gaan jy dit stop?
Spreuke 2:16: “Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou (man) af, die vrou (man) met die verleidelike praatjies, wat haar eie man (sy eie vrou) verlaat en die verbond van haar God vergeet het. Haar (Sy) huis lei ’n mens na die dood toe, haar (sy) spore bring jou by die dooies uit. Mense wat na haar (hom) toe gaan, kom nie een terug nie; hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.â€
Luister weer na Jesus se woorde in Mattheus 5:27-28: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.â€
Verder sê Jesus dat as jou regteroog jou laat struikel, jy dit moet afkap. Dit is beter om een van jou ledemate te verloor as dat jou hele liggaam in die hel beland.
Ek wonder: Is jy vandag besig om ’n emosionele of fisieke verhouding met iemand buite jou huwelik aan te knoop? Is jy enkellopend en by ’n getroude persoon betrokke? Sit dit stop. Roep God aan om jou te versterk sodat jy kan loskom van hierdie valse opwinding. Moenie wag totdat jy die koggelende gelag uit een van die hoeke in die donker vertrek hoor nie! Sterkte.
GEBED VIR GETROUDE
Vader God, dankie dat ek my huwelik aan U kan opdra. Ek bid vir bonatuurlike beskerming vir ons huwelik en dat U enige bose plan wat teen ons gesmee word, sal laat misluk. Help ons albei om in elke situasie die versoekings raak te sien en daarvan weg te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
GEBED VIR IEMAND IN ’N BUITE-EGTELIKE VERHOUDING:
Vader God, ek kom vandag na U toe in die Naam van Jesus Christus. Ek besef dat ek besig is om my eie en (ander persoon se naam), asook die res van my gesin se lewens te vernietig. Vergewe my asseblief vir my aandeel. Ek smeek U vandag dat U ons albei asseblief sal help om weg te stap van hierdie verkeerde verhouding. Sny alle verkeerde sielsbande tussen ons. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
- Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:
o        Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by
- Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus