Afhanklikheid van God belowe Uitkoms - 26 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: Psalm 123:2: "Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres - so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is."
Hierdie beeld is geleen van die gebruik dat slawe in die teenwoordigheid van hul eienaars en omstanders gestraf is vir hul oortredinge. Die slaaf hou sy oë vasgenael op sy eienaar in afwagting op 'n kopknik of handgebaar wat die straf sal beëindig,
Die Psalmis se roerende pleitroep: "so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is" , kommunikeer sy algehele afhanklikheid van die Outeur van genade - die Here ons God.
Die rede vir sy pleitgebed namens sy volk is omdat hoogmoedige en arrogante mense hulle verag en die spot met hulle dryf. Ongelukkig gebeur dit steeds vandag dat mense deur kollegas, 'n egmaat, of boelies verkleineer en gespot word. Of sommer net as mens geminag word. As jy in so 'n situasie vasgevang is, kyk soos die Psalmis op na jou Ontfermer, na die Here wat jou genadig kan wees. Moenie ophou bid en vertrou op Sy ingryping nie........want Sy liefde vir jou kan nie anders as om genade of ontferming in werking te sit nie.
Ons afhanklikheid van 'n hoër gesag, van God, is treffend in hierdie prentjie met woorde geskilder. Jy sien honger mense, gebroke mense, mishandeldes, eensames, verwerptes en rantmense wat met dowwe oë afwagtend kyk na die Here se hand vir uitkoms.......vir kos, vir heel harte en lywe, vir 'n familie, vir aanvaarding en vir 'n binnekring.
En dan lees ek van hoop, van ingryping: "As die Here ons nie gehelp het toe mense ons aangeval het nie, dan het hulle ons lewend verslind, dan het die waters ons weggespoel. Aan die Here kom die lof toe: Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie. Ons is bevry soos 'n voël uit die wip van 'n voëlvanger; die wip het gebreek en ons was vry! Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." (Ps124:2,4,6-8)
As jou omstandighede so seer en pynlik is dat dit vir jou onouthoudbaar is, mag jy maar jou oë opslaan na die Here in erkenning dat Hy die enigste Een is wat krag kan gee en genade oor jou situasie kan uitstrooi. Jesus het dit gedoen (Joh 17:1) en Stefanus ook (Hand 7:55). Jy bevind jou dus in goeie geselskap.
Gebed: U hoor elke keer as ek roep en U hoor elke gebed wat ek tot U rig. Maar ek bid dat U my genadig sal wees om geduldig te wag totdat U my hand gryp. Slegs dan sal ek my kop kan oplig en my verheug in U voorsiening en betrokkenheid in my lewe.