Afhanklikheid en goeie vrug - 26 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: Joh 15:5: "Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in Hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie."
Ons leef vandag in die bevoorregte posisie dat ons met die druk van 'n knoppie, lêers vol kundige inligting oor enige denkbare onderwerp binne minute onder oog kan kry. Selfhelpkursusse of -boeke stel ons in staat om probleemareas in ons lewens aan te spreek en seminare oor allerlei lewensonderwerpe dra by dat ons redelik ingelig en intelligent ons lewens kan leef.
Hierdie versameling van kennis kan ons egter mislei om ons suksesse en veranderde leefwyse toe te skryf aan ons eie vermoëns en vaardigheid. Natuurlik is daar vrug op harde werk, maar as vrug nie ontwikkel en groei vanuit 'n afhanklikheidsverhouding met Jesus nie, kan dit nie blywend wees nie: "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot uit sy eie nie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie." (Joh 15:4)
Om vrug te dra sonder om in Hom te bly, het soms tot gevolg dat ons in voortvarendheid sekere dinge doen en sê wat skadelik en selfs vernietigend kan wees. Vurige Petrus se optrede in verskillende situasies, leer ons hoe om nié self dinge te hanteer nie:
- Toe Jesus die dissipels gerusstel dat dit Hy is wat op die water loop, eis Petrus dat Hy sy persoon bewys - Hy moet hom beveel om ook op die water te loop. Vrees pak Hom egter na 'n entjie beet, hy begin sink en moet uiteindelik met 'n benoude hulpgeroep erken dat Christus die Here is. (Matt 14:30).
- By 'n ander geleentheid is hy vermetel genoeg om Jesus te berispe toe Hy die lyding wat op Hom wag, met sy dissipels deel. (Mark 8:32);
- Hy slaan en kap die oor van Malchus af tydens Jesus se gevangeneming (Joh 18:10) en kort daarna ontken hy dat hy Jesus hoegenaamd ken (Matt 26:51).
- Na Jesus se dood keer hy terug na sy ou beroep. Hy skenk geen gedagte aan die dag toe God Self aan hom openbaar dat Jesus die Christus die Seun van die lewende God is nie. Vergete is ook die dag toe Jesus sy naam van Simon Barjona verander na Petrus, 'n rots. (Matt 16:17,18).
God wil dat ons goeie en blywende vrug voortbring. Alleen is dit onmoontlik, maar as ons toelaat dat die sap van die druiwestok daardie soort vrug in ons voortbring, word Jesus se belofte vervul: "Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in Hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie." (Joh 15:5)
Gebed: Genadige Vader, verhoed tog dat ek kunsmatige vrug voortbring. Gee my 'n vier en twintig uur bewustheid dat die Heilige Gees alleen vrug in my lewe kan voortbring wat vir U aanvaar is en help my om altyd van U afhanklik te bly. Amen.