Afhanklik van God - 25 Junie 2014
Carina Francke
Teksvers: Matt 5:1-3: "Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer en gesê: "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel." (NAV 1983)
Jesus spreek met hierdie woorde 'n baie belangrike kwessie in gelowiges se lewens aan, naamlik afhanklikheid van God. Dit behels egter meer as die afhanklikheid van daaglikse fisiese behoeftes. Dit gaan veral ook oor die besef dat ons van God afhanklik is vir 'n gesonde innerlike mens, ons gees mens. Die 1933 vertaling verwoord hierdie afhanklikheid as:"Salig is die wat arm van gees is."
Armoede van gees het te doen met die gesindheid waarmee jy leef. Dit spreek van nederigheid - die leegtap van jou lewe wat oorloop van intellek, talente, kreatiwiteit en bekwaamheid sodat jy gevul kan word met afhanklikheid van God om hierdie gawes reg te kanaliseer.. Armoede van gees is die verloëning van die drang om self in beheer te wees en om oor ander te heers. Dit is die gewilligheid om Hom te ken in elke besluit wat jy neem en die bereidwilligheid om jou te onderwerp aan die koers en manier van lewe soos Hy dit aandui. Dit is om Hom koning van jou lewe te maak.
Kortkom, dit is die gesindheid van Jesus:".....maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie." (Mark10:43-45)
Hierdie hartsgesindheid hou 'n belofte in: seën in en oor jou lewe. Vanuit Jesus se perspektief is seën die belewenis van hoop en blydskap ongeag uiterlike omstandighede. Dit is geluk wat spruit uit die belewenis van Sy guns in jou lewe. Dit is geestelike voorspoed wat jou vul met lewensvreugde en tevredenheid omdat jy van die guns en betrokkenheid van God in jou lewe verseker is.
'n Wyse persoon het die volgende opmerking gemaak: die riviere wat ons landerye vrugbaar maak, vloei in die valleie. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van nederigheid vertrou.
Gebed: Hemelse Vader, ek verklaar vandag my algehele afhanklikheid van U in elke faset van my lewe. Ek bid dat my gees wat so maklik met U heerskappy wil kragte meet, met elke asemteug bewus sal word dat U die Gewer en Onderhouer van my lewe is. Amen.