Vers n dag - 4 Augustus
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 24 : STEL JY GOD EERSTE ... IN JOU FINANSIES (DEEL 2)
Deur: Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: Ná gister se stukkie het ek ’n klomp navrae van lesers gekry. Sommige wou weet of hulle hul tiende steeds moet gee as hulle self deur ’n finansiële krisis gaan. Ander wou weet of hulle ’n gedeelte van hul tiende eerder aan vriende in nood, eerder as aan hulle kerk, kan gee. Nóg ander wou weet of hulle hul tiende van hul netto inkomste en/of van die bruto inkomste af moet bereken. In Lukas 21:1-3 vind ons ’n beginsel wat dalk al hierdie vrae hierbo kan beantwoord ...]
Kom ’n oomblik saam met my terug in tyd. In die tempel waar Jesus en sy dissipels sit, brom die mense onderlangs vir mekaar. Van hulle het gekom om te aanbid. Ander om offers aan God te bring. Nóg ander om ’n gedeelte van hulle inkomste na die offergawekis in die tempel te bring.
Hou ’n oomblik saam met my die mense by die offergawekis dop. Sien jy die rykes wat met hulle weelderige klere vol bravade hul geldsakke uithaal om die groot, silwer muntstukke in die kis te gooi? Sien jy hoe van hulle ekstra lank by die offergawekis vertoef in die hoop dat die mense rondom hulle dit sal raaksien en dink dat hulle selfs meer geld ingooi as wat hulle in werklikheid ingegooi het?
’n Geskuifel agter in die tempel trek ons aandag. Dit is ’n ouerige vroutjie wat met moeite, maar doelgerig in die rigting van die offergawekis stap. Te mete aan haar kleredrag het sy duidelik nie baie geld nie. ’n Oomblik lank wonder jy hoekom sy nie eerder haar geldjies gebruik om na haarself en haar gesin om te sien nie. Sy is immers ’n weduwee. Langs die offergawekis gaan die vroutjie staan. Versigtig haal sy haar laaste twee klein muntstukkies uit haar sak om dit in die kis te gooi voordat sy weer wegstap.
Op meeste van die ryk mense in die tempel se gesigte is daar ’n frons as hulle na die ou vroutjie kyk. Op Jesus se gesig is daar ’n glimlag. Hierdie vroutjie het verstaan dat God meer na ons gesindheid kyk as na die bedrag wanneer ons gee. Luister na Jesus se woorde wanneer Hy na sy dissipels draai: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe†(Lukas 21:3).
Waarom gee jy jou tiende? Waarom help jy die armes in jou omgewing? Is dit om jou gewete te sus? Of dalk in die hoop dat iemand anders jou sal raaksien en jou daarvoor sal prys? Luister weer na die woorde in 2 Korintiërs 9:7: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.â€
Die arm weduwee het haar laaste twee klein muntstukke in die offergawekis gegooi – nié om enigiemand te beïndruk nie, maar om aan God te wys dat sy Hom vertrou om vir haar te voorsien. Sy het verstaan dat alles wat sy besit ’n genadegawe uit God se hand is.
Dit gaan dus nie oor die bedrag wat jy gee nie, maar oor die gesindheid waarmee jy gee. Kain en Abel het albei ’n gedeelte van hul inkomste aan God gegee. Abel het gegee met ’n blymoedige hart omdat hy geweet het dat al sy besittings van God af kom en dat dit bloot aan hom geleen is. Kain het gegee om sy gewete te sus. Soos watter een van die twee broers is jy vandag?
Vader God, baie dankie vir alles wat U aan my toevertrou het. Help my om nie so aan my aardse besittings vas te klou dat ek vergeet dat dit eintlik aan U behoort nie. Help my om my geldsake met wysheid te bestuur met die wete dat ek ’n rentmeester is van wat U in my hand geplaas het. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
- Praatjie: Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker op Lentedag, 1 September 2010 in die Wolseley-omgewing. Vir meer inligting, kontak Maryka by 023-3420817 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
- Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus