Vers n dag - 2 Augustus
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 22: STEL JY GOD EERSTE ... DEUR JOU WAPENRUSTING AAN TE TREK
Deur: Benescke Janse van Rensburg
As jy môre opgeroep word om aan ’n oorlog te gaan deelneem, sal jy sonder ’n geweer of ’n granaat die gevegsone binnestap? Natuurlik nie. Tog stap menige van ons die dag binne – sonder om God se wapenrusting aan te trek.
Efesiërs 6:10-13: “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug ... â€
Hoe lyk hierdie wapenrusting en hoe sorg ’n mens daagliks dat jy dit aantrek?
DEEL 1: DIE HELM VAN VERLOSSING
Een van die hoofareas waar die vyand ons aanval is in ons gedagtes. Sit jou helm op om jou gedagtes te vernuwe.
Hoe sit jy die helm op? In Romeine 12:1 lees ons dat ons, ons gedagtes moet vernuwe. Hoe doen jy dit? As jy kwaad is vir iemand, maak vrede. As jy negatiewe denkpatrone in jou lewe het, kies om dit met God se beloftes te vervang. Mettertyd sal jy vind dat die vyand al minder ’n houvas op jou gedagtewêreld het. In Jakobus 4:7-8 lees ons: “Onderwerp jou aan God. Weerstaan die Duiwel en hy sal van jou af wegvlug.â€
DEEL 2: DIE BORSHARNAS VAN VRYSPRAAK
As die vyand jou nie van God af kan wegrokkel nie, sal hy probeer om jou aan jou verlede te herinner en jou laat daaroor skuldig te laat voel.
Hoe sit jy die borsharnas aan? Herken dat Jesus vir al jou sondes gesterf het. Sê opnuut vir God dankie vir hierdie opoffering. En wanneer die bose jou aan jou verlede wil kom herinner, herinner hom daaraan dat God reeds jou sonde so vêr soos die ooste van die weste verwyder het (Psalm 103:12).
DEEL 3: DIE GORDEL VAN DIE WAARHEID
Bid daagliks dat die God jou deur sy Heilige Gees sal lei om te onderskei tussen wat goed, reg en in lyn met God se Woord is en wat nie.
Hoe sit jy die belt aan? Maak tyd om Bybel te lees. Dit is die enigste manier waarop jy die waarheid sal kan onderskei. Vertrou ook op die rustigheid en onrustigheid wat die Heilige Gees in jou gemoed plaas.
DEEL 4: DIE SKOENE VAN BEREIDWILLIGHEID OM DIE EVANGELIE TE VERKONDIG
Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels in Mattheus 28:19 was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies … †Die vyand gaan jou altyd probeer keer om dit te doen.
Hoe trek jy daagliks die skoene aan? Bid vir wysheid en onderskeiding dat die Heilige Gees jou lei om te weet wanneer jy moet praat en wanneer jy net vir ’n ongelowige se redding moet bid. Die belangrikste is om altyd in liefde teenoor almal op te tree – sonder dat jy hom of haar veroordeel laat voel.
DEEL 5: DIE SKILD VAN GELOOF
Die vyand sal alles in sy mag probeer om jou in jou geloof te laat twyfel – veral as jy op ’n deurbraak in jou lewe wag. Kies om die brandpyle van die vyand te herken en dit met jou skild van geloof af te weer.
Hoe tel jy die skild op? In Hebreërs 11:1 lees ons: “Geloof is om seker te wees van die dinge waarop jy hoop en oortuig te wees van die dinge wat jy nie kan sien nie.†Hou vas aan God se beloftes van ’n deurbraak. En wanneer jou geloof swak raak, kies ook om Hom te loof en prys. Jy sal verbaas wees hoe dit jou geloof versterk.
DEEL 6: DIE SWAARD VAN DIE WOORD
God se Woord is ons enigste wapen in die stryd teen die bose.
Hoe tel jy die swaard op? Dink vir ’n oomblik hoe Jesus in die woestyn teen die Satan geveg het. Telkens het sy antwoord begin met: “Daar staan geskrywe ... †Maak tyd om God se woord en beloftes in jou hart te bêre en wanneer die bose jou weer wil aanval, kies om jou eie pyl terug af te vuur deur soos Jesus te antwoord: “Daar staan geskrywe ... â€
Het jy al vandag die wapenrusting aangetrek? As jy nie het nie, trek dit aan en stap vol selfvertroue die week in. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U vir Jesus gestuur het wat die krag van die bose volkome gebreek het. Help my om daagliks seker te maak dat ek die wapenrusting aanhet sodat ek met selfvertroue hierdie geveg kan veg. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus