Vers n dag - 30 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 21: STEL JY GOD EERSTE ... Â WANNEER JY JOU OOR JOU DIERE BEKOMMER?
Deur: Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: God is in beheer van elke situasie in ons lewens. Soms gebruik hy ons diere om dit aan ons te bewys. Hier is ’n getuienis van een van die lesers, Wilna Meiring...]
Wilna: “Om van die stres by die werk ontslae te raak het ek ’n paar jaar gelede begin perdry. Hierdie stokperdjie het in ’n sport ontwikkel en deesdae ry ons 80km op ’n Saterdag. Teen die begin van die jaar wou ek meer kompeterend begin ry met die doelwit om saam met my perd, Amor, wat ek baie liefhet, Noordelike Unieklere te verwerf.
“Die belangrikste kompetisie in hierdie sport is die jaarlikse Fauresmith Uithourit (201 km oor drie dae) in Juliemaand. Ek en Amor het verlede jaar deelgeneem en ek wou hê dat ons hierdie jaar goed moes presteer om sodoende Unieklere te verwerf. Alles het goed verloop met die voorbereiding totdat Amor tydens ’n uithourit in Februarie gestruikel en geval het. Die impak van die val was so erg dat die saal gebreek het. Ek het wonderbaarlik oorleef, maar Amor se knieskyf was ernstig beseer.
“Die veeartse wat na Amor gekyk het, het min hoop gehad dat sy volkome sou herstel. Met my droom op die punt om aan skerwe te spat het ek besluit om Amor aan God op te dra. Net God sou haar immers kon genees.
“In die daaropvolgende weke het ek met ander perde vir die Fauresmith Uithourit probeer kwalifiseer – sonder sukses. Dit was amper asof God geweet het wat Hy vir my beplan het en die ander deure toegehou het. Intussen het Amor, tot almal se verbasing, al sterker geword en toe ons in April by die veearts ’n draai maak het hy gesê dat sy sterk genoeg was dat ek weer op haar kon begin ry.
“Ons het hard geoefen om haar weer fiks te kry en net betyds tydens ’n ander kompetisie vir die Fauresmith Uithourit gekwalifiseer. Amor het die beste nog in haar lewe gelyk en sy was fiks genoeg vir die uitmergelende kompetisie wat voorgelê het. Tog wou ek seker maak dat God steeds by ons is. Vir die twee weke voor die wedren het ek elke aand by Amor gaan staan, my hand op haar gelê en vir God gevra om ons tydens die wedren te beskerm.
“Met opgewondenheid het ek en Amor aan die begin van Julie op Fauresmith aangekom. Ons het 20ste in die standaardafdeling van 88 ruiters geëindig met ons beste tyd ooit (10 uur 16 min). Wat die prestasie besonders maak, is dat net 43% van die perde wat die rit begin, klaarmaak. Al het ek en Amor nie Noordelike Unieklere behaal nie, het ek my perd terug – gesond en in goeie kondisie! Hierdie belewenis het my opnuut laat besef dat God soms ons diere gebruik om aan ons sy liefde en krag te demonstreer. Ek staan steeds in verwondering.â€
Wilna is reg. God weet van elke dier op aarde en elkeen van hulle is vir Hom belangrik (Psalm 50:10). Net so is elkeen van ons mense ook vir Hom belangrik en weet Hy alles van ons af:
Matteus 6:25-26: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?â€
Het jy ’n bekommernis in jou hart? Oor jou huwelik? Oor ’n kind? Oor jou finansies? Of oor jou gesondheid? Is dit nie ook vandag jou tyd om dit aan God oor te gee nie? Onthou, Hy is baie lief vir jou en wil aan jou die uitkoms gee. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U nie net van elke dier op aarde weet nie, maar ook van my en my bekommernisse. Ek wil vandag (spesifieke bekommernis wat jou pla) voor U neerlê. Lei my om my geloof en vertroue 100% in U te plaas. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus