Vers n dag - 28 Mei
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 19: STEL JY GOD EERSTE... SOOS ONS VRIENDE UIT DIE BYBEL (DEEL 3) Deur: Benescke Janse van Rensburg
Leesstuk: Rigters 6-8
Dit is laatmiddag by die watergat naby Horodfontein. Gideon en sy manskappe het gekom om water te drink. Met ’n hart wat vinnig klop, kyk hy weer na die 300 mans voor hom. Dan draai hy sy kop vir ’n oomblik lank weg om in stilte desperaat tot God te bid ...
Sewe jaar lank was die Israeliete ongehoorsaam aan God. Hulle het in sonde geleef en selfs afgode aanbid. As gevolg hiervan het God die Midianiete toegelaat om die Israeliete te terroriseer en hulle oeste te verwoes. Dit het die Israeliete al armer gemaak. Totaal desperaat het hulle voor God gaan staan, hulle sonde bely en Hom gevra om hulle in die veldslag teen die magtige Midianiete te lei. God het hulle gebede gehoor en vir Gideon gekies om die weermag te lei met die belofte dat H‎‎‎ý aan hulle die oorwinning sal gee.
Ure vantevore was Gideon saam met sy weermag van 32,000 mans vol selfvertroue dat hulle die Midianiete gaan verslaan. Toe kom God in Rigters 7:2 met hierdie woorde: “Gideon, ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: 'Ek het myself gered.' Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.â€
Geskok het Gideon gestaan en kyk hoedat 22,000 bang manskappe huis toe vertrek. Met 10,000 mans oor het God vir Gideon na die watergat gestuur vir ’n verdere siftingsproses. Nooit het Gideon gedink dat net 300 mans sou oorbly om saam met hom die veldslag aan te durf nie.
Ek wonder hoe Gideon by die watergat gevoel het. Bang? Totaal bevrees? En hoe moes die 300 krygers saam met hom gevoel het by die besef dat hulle ’n weermag van sowat 120,000 mans sou moes stormloop?
Voel jy vandag of jy voor ’n uitdaging staan wat net soos Gideon s’n onmoontlik lyk om te oorkom? Hier is drie lesse wat ons uit Gideon se lewe kan leer:
LES 1: God kies wie hy wil gebruik. Al was Gideon ’n lid van die swakste familie van Israel en daarby die jongste van sy pa se kinders, het God gekies om hom as sy instrument te gebruik. Al wat God wou hê, was Gideon se bereidwilligheid om sy opdrag uit te voer. Ek wonder: Voel jy dalk minderwaardig en dat God jou nooit sal kan gebruik nie? Is jy skaam vir die familie waaruit jy kom? Onthou, niemand is ooit vir God te onbelangrik om te gebruik nie. Hy soek net ‘n gewillige hart.
LES 2: Staan op God se beloftes. Al wat Gideon gehad het, was die belofte wat die Engel van God aan hom gegee het dat God hulle in die veldslag teen die Midianiete sou help. Met net 300 mans aan sy kant het Gideon homself keer op keer aan dié belofte herinner om sy geloof te versterk. Ek wonder: Staan jy op God se beloftes wanneer jy jouself in ’n situasie bevind waar ’n deurbraak onmoontlik lyk?
LES 3: As God ’n ding doen, doen Hy dit behoorlik. Teen middernag daardie dag het Gideon en sy 300 manskappe tot teenaan die vyand se kamp gesluip. Toe die wagte skofte ruil, het hulle hard op die trompette geblaas, fakkels aangesteek en hard geskree: “Ons veg vir die Here en vir Gideon!†Die Midianiete was totaal verward en het begin om mekaar in die donker kamp uit te moor. Ongeveer 105 000 mans het daardie nag gesterf. In Rigters 8:28 lees ons dat die Midianitiese volk daardie dag so deeglik verslaan is dat hulle nooit weer vir Israel ‘n gevaar was nie.
Staan jy vandag voor ‘n situasie waar ‘n deurbraak vir jou onmoontlik voel? Onthou, soms moet ons, ons geloof en vertroue van mensgemaakte hulp afhaal en opnuut op God plaas om sy krag die meeste in ons lewens te ervaar. Gaan jy vandag op Hom vertrou? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat niks saam met U ooit onmoontlik is nie. Help my asseblief om verby my vrees te kyk en soos Gideon my oë op U en u beloftes te hou, selfs al is dit soms moeilik. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus