Vers n dag - 27 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 18: STEL JY GOD EERSTE... SOOS ONS VRIENDE UIT DIE BYBEL (DEEL 2)
Deur: Benescke Janse van Rensburg
’n Harde donderslag verlig die koue, nat tronksel ’n oomblik voordat dit weer nagdonker word. Die sekonde van lig in die sel was genoeg om die vrees op die gevangenes se gesigte te sien. In die hoek skuif iemand versigtig rond om die stremming van die swaar boeie om sy enkels te verlig. In die verte klink die geskree van ’n nuwe gevangene op. Die tronkbewaarders se kwaai stemme volg. ’n Tronkdeur gaan oop, die gevangene word hardhandig ingegooi, voordat die deur weer hard toegeklap word.
DÃt is die Egiptiese tronk waarin Josef vir 12 jaar lank opgesluit was. Sy broers het hom uit jaloesie aan Egiptiese handelaars verkoop. In Egipte het hy as ’n slaaf in Potifar se huis gewerk voordat Potifar se vrou hom probeer verlei het. Josef het uit die huis gevlug, maar Potifar se vrou het hom aangekla dat hy by haar aangelê het. Josef is in die tronk gegooi.
Deur die jare het God vir Josef beskerm en aan hom guns by mense gegee. Selfs hier in die tronk het die tronkbewaarder hom in beheer van die gevangenes geplaas. Dit is egter op koue aande soos vanaand dat Josef wonder of hy ooit hierdie tronksel sal verlaat. Sal hy ooit weer sy familie sien? En sal die drome wat hy eens gehad het ooit waar word?
Sit jy vandag in ’n seisoen in jou lewe waar jy net soos Josef wonder of jy ooit die huidige, moeilike seisoen in jou lewe gaan vryspring? Hier is drie lesse wat ons uit Josef se lewe kan leer:
LES 1: Josef het aan sy drome vasgehou. In Psalm 139:16 lees ons dat God ons elkeen se toekoms ken. Omdat Hy geweet het dat Josef homself in ’n tronksel sal bevind het God reeds jare vantevore vir hom die drome gegee dat sy broers voor hom buig.  En hoewel Josef nie 100% verstaan het wat die drome beteken het nie, het die drome tog aan hom hoop gebied dat God iets beter vir sy toekoms beplan het. In die tronk was dit al waaraan hy kon vashou. Ek wonder: Raak jy negatief as ’n donker seisoen oor jou pad kom, of hou jy vas aan God se beloftes in jou hart vir ’n beter toekoms?
LES 2: Josef het die karaktertoets geslaag. God sal ons altyd eers toets voordat Hy ons gebruik of ons na ’n volgende seisoen in ons lewens bevorder. Hoekom? Dit is vir Hom belangrik dat ons die druk in die nuwe seisoen sal kan hanteer. Ook dat dit ons nie van Hom af sal wegrokkel nie. In Psalm 105:19 lees ons dat God Josef se karakter aanhoudend getoets het. Toe Josef elke toets slaag, het God hom in een dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. Slaag jy die karaktertoets in jou lewe wanneer ’n verleidelike, maar korrupte besigheidskontrak wink? Of ’n buite-egtelike verhouding? Of ’n verslawing? Onthou, God hou jou ook vandag dop.
LES 3: Josef het God se groter plan vir sy lewe verstaan. God het geweet dat ’n hongersnood die wêreld sou tref. Ook dat die Israeliete na Egipte sou reis om kos te gaan koop. In Psalm 105:16-17 lees ons: “Hy (God) het ’n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop…†Na Josef se vrylating uit die tronk het hy skielik verstaan dat hy bloot ’n instrument in God se hand was. En toe sy broers voor hom neerbuig om kos te kom koop (soos in die droom van jare vantevore), het Josef hulle nie met haat en verwyt hanteer nie, maar met liefde en aanvaarding. Luister na sy woorde in Genesis 45:7-8: “God het my voor julle uit gestuur om ... julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.â€
As jy vandag in seisoen sit wat soos Josef se koue, nat tronksel voel, kies om soos Josef vir God eerste te stel. Hou jou oë op Hom en slaag elke karaktertoets. Onthou, God is op hierdie oomblik ook besig om alles in jou lewe so in te rig dat jou deurbraak op presies die regte tyd ook in jou lewe sal kom. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in beheer is van my lewe en my toekoms. Help my om elke karaktertoets te slaag en nooit mismoedig te raak wanneer dit voel asof die deurbraak wegbly nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus