Vers n dag - 26 Julie
TEMA VIR HUIDIGE REEKS: STEL JY GOD EERSTE?
DAG 17: STEL JY GOD EERSTE... SOOS ONS VRIENDE UIT DIE BYBEL (DEEL 1)
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Die ritmiese getimmer teen die groot boot weergalm deur die laatmiddagstilte. Oor die jare was die amper 600-jarige man wat aan die boot bou telkemale die middelpunt van die gemeenskap se grappe en spot. Tog het dit hom nooit gepla nie. Inteendeel, dit het hom meer gedetermineerd gemaak om die projek wat God aan hom gegee het af te handel.
Vir ’n oomblik stop Noag om die sweet van sy aangesig weg te vee. Dan trek hy nog ’n spyker nader voordat hy dit in die boot timmer. Geduld en deursettingsvermoë staan duidelik aan die kern van hierdie projek.
In Genesis 6 lees ons van ’n donker wêreld. ’n Wêreld deurdrenk met korrupsie, deurweek met geweld en verflenter deur sonde. DÃt was die tipe wêreld waarin Noag geleef het. Verder lees ons dat die mense se sondes God so bedroef gelaat het dat Hy dit oorweeg het om die wêreld te verwoes. Maar dan sien Hy vir Noag. ’n Opregte, Godvresende man. ’n Roos tussen ’n wêreld vol onkruid. Iemand wat die waarde verstaan het om God eerste in sy lewe te stel. En God besluit om Noag en sy gesin te spaar en gee aan hom die opdrag om ’n ark te bou ...
Wat is van die lesse wat ons uit Noag se lewe kan leer?
LES 1: NOAG WAS GEHOORSAAM AAN GOD
Tot voor die sondvloed was daar geen reën op die aarde nie. Met God se opdrag aan Noag om ’n ark te bou het Noag dus geen idee gehad waar die water vandaan sou kom om die boot te laat dryf nie. Tog was hy onmiddellik gehoorsaam aan God se opdrag – sonder om dit ooit te bevraagteken. Ek wonder, as God vandag vir jou ’n vreemde opdrag gee om uit te voer. Sal jy dit onmiddellik doen of gaan jy Hom eers bevraagteken?
LES 2: NOAG HET TEN SPYTE VAN TEENKANTING PERSPEKTIEF BEHOU
Al het Noag met die verloop van jare geweldige spot van die plaaslike gemeenskap verduur, het hy nooit sy oë van God en die opdrag wat hy ontvang het afgehaal nie. En al het die wêreld mettertyd al meer vol sonde geraak, het Noag steeds met ’n opregte hart voor God geleef. Ek wonder, wat is jou reaksie wanneer jy teenkanting in ’n opdrag ervaar wat God op jou hart kom lê het? Veg jy verwoed terug of kies jy om met liefde teenoor jou spotters op te tree terwyl jy jou oë op God hou?
LES 3: NOAG HET DIE TOETS GESLAAG EN DIE BELONING ONTVANG
Nadat die ark voltooi was, het Noag en sy familie saam met al die diere wat God na die ark gestuur het in die ark ingegaan. Die reën het begin val en Noag en sy gesin was veilig. Toe die vloedwater eindelik begin sak nadat dit opgehou reën het, het Noag en sy familie op droë grond uitgestap en ’n reënboog gesien. Die reënboog was God se teken dat Hy nooit weer alles wat lewe deur so ’n oorstroming sal vernietig nie. Noag het die toets vir gehoorsaamheid geslaag en God het hom daarvoor geëer.
In 1 Samuel 15:22 beklemtoon God deur die profeet Samuel dat ons gehoorsaamheid aan Hom belangriker is as offerande wat ons aan Hom kan bring.
Stel jy God eerste deur onmiddellik gehoorsaam te wees aan sy opdragte in jou lewe? Onthou, God het jou ook geweldig lief en jou gehoorsaamheid kan ook tot seëning in jou en jou familie se lewens lei. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my toekoms ken. Help my asseblief om te weet wanneer ’n opdrag van U af is en ook om gehoorsaam daaraan te wees – selfs al is dit soms moeilik. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** ’n Paar interessante feite van Noag: http://www.gotquestions.org/Noahs-ark-questions.html
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus