“Was jy daar toe hulle my Heer geskruisig het …” - 17 April 2014
Hennie Symington
Beste Versndag-lesers
Ek bied ek graag ‘n verduideliking t.o.v. van wat ek in gister se stukkie geskryf wat mense moontlik aanstoot gegee het. Ek bedoel hoegenaamd nie dat God nie alles kan doen nie. God kan alles doen - hy is soewerein en sy wil is volmaak. Maar God hoef nie alles te doen wat ons wil hê hy moet doen nie. Natuurlik gebeur daar wonderwerke maar, en dit het ek ook baie duidelik in die stuk gestel, dis alles binne God se volmaakte wil. In ‘n vorige stukkie het ek ook verwys na die Skrifgeleerdes wat hom uitgedaag het om wonderwerke te doen om te bewys dat hy die Christus is. En dit het hy geweier om te doen. Baie dankie aan die lesers wat hulle terugvoer gegee het. Ek neem dit ter harte.
Groete
Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.” Lukas 22:15
Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Jesaja 53:2
Paasfees ʼn tyd om op reis te gaan - nie see toe of wildtuin of berge toe nie, maar op ʼn innerlike reis waar jy stap vir stap die passie van Christus meemaak asof jy self daar was en die ongelooflike drama van afskeid, verraad, lyding en sterwe beleef het. Dis ʼn reis wat jy nie durf misloop nie, want meer as enige ander Christenfees is dit die fees wat ons ten diepste konfronteer met ons Christelike geloof. Dit is die fees by uitstek wat ons verander en nuut maak.
Word deel van die Christus se passie deur Pase met passie te vier – nie as buitestaanders nie maar as ʼn bewoë deelnemer. Plaas jouself in ʼn bokamer êrens in Jerusalem 2 014 jaar gelede waar Jesus die pasga vir oulaas saam met sy dissipels vier voordat hy die pyn van verraad en verloëning van die wat die naaste aan hom was, moes verduur.
Op Goeie Vrydag rou ons saam met die skepping oor die dood van die Skepper toe die natuur van skok geruk het en die ganse skepping asem opgehou het. Op stil Saterdag tussen Goeie Vrydag en Opstandingsondag verkeer die mensdom figuurlik gesproke tussen die hemel en die hel. Dink daaraan dat Christus die reis van die dood terug na die lewe onderneem en voltooi het vir geen ander rede as om nuwe lewe in jou are terug te blaas nie. Sy oorgang van die dood na die lewe maak dit vir jou moontlik om op te staan en te lewe. Juig dus saam met die skepping wanneer jy jou groet op Opstandingsondag helder laat klink saam met miljoene ander: “Christus het opgestaan! Ja, Hy het waarlik opgestaan!”
Gebed: Here, as u dood en opstanding vir my net ʼn ontroerende tafereel tussen die blaaie van 'n boek bly, het U verniet gesterf. Blaas u asem oor my lewe sodat ek kan opstaan en voluit lewe. Amen