Ek soek ‘n wonderwerk in my lewe - 16 April 2014
Hennie Symington
Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind (nie) ....Efesiërs 4:14a
Ons almal droom van wonderwerke. “Ag as ek net ‘n wonder kan sien ...” is die versugting van baie harte.Ons word meegevoer deur wat ons op die TV-skerm sien. Ons droom van “makeovers” wat ons lewens van vaal na vrolik sal omtower in ‘n oogwenk. Ons droom ons dae om met die hoop dat iets ons lewens dramaties gaan verander. Ons bid vir die regte werk om in ons skoot te val; ons bid dat ons die regte maat wat alles gaan verander sal ontmoet. Ons bid dat die skinderstories wat ons versprei het, nie skade gaan doen nie. Soms is ons gebede sommer net wensdenkery soos om te bid vir ‘n somersdag in die middel van die winter.
Mense hou daarvan om God as ʼn towenaar sien. God kan enigiets doen, dink ons. God kan nie enigiets doen nie, juis omdat Hy God is. Tog is ons Christelik geloof op wonderwerke gebaseer. Wonderwerke gebeur wanneer toegewyde Christene alles in die stryd werp om die goeie tot stand te bring. Sulke wonderwerke gebeur wanneer vergifnis van die onvergeeflike plaasvind en versoening gebeur. Wonderwerke gebeur wanneer mense oor grense heen versoen word. Wonderwerke gebeur wanneer gebroke verhoudings herstel word – wanneer man en vrou, vader en seun, broer en suster, vriend en vyand mekaar vergewe en vind. Wonderwerke gebeur wanneer die leeu en die lam saam wei en swaarde in ploegskare gesmee word.
Die grootste wonderwerk ooit was egter toe God onder ons kom woon het en vir ons kom instaan het sodat die dood nie die laaste sê sou hê nie. In plaas daarvan om op jag te wees na wonderwerke, kom ons doen liewer die wil van ons Vader en al die dinge sal vir ons bygevoeg word.
Gebed: Here help ons om te begryp dat om te smag na die onmoontlike nie wonderwerke te weeg bring nie. Gee dat on sons eerder daarop sal rig om u wil te laat geskied. Amen