Is jy ʼn goeie landsburger? - 14 April 2014
Hennie Symington
“Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort; en aan God wat aan God behoort.” Lukas 20:25
Vra jouself af: is ek ʼn goeie landsburger? “Natuurlik is ek,” sou die meeste van ons antwoord. Ek betaal belasting, ek hou stil by die verkeerslig, ek steel nie ander mense se goed nie en ek gaan gereeld kerk toe. Mooi. Maar het jy al verder gedink oor die “moets” en die “moenies” van goeie burgerskap. Eintlik het ʼn goeie landsburger soveel in gemeen met ʼn goeie Christen. Dalk moet ons onsself afvra: "Hoe kan ek as ʼn goeie Christen en landsburger my medemens met die liefde van Christus bedien?"
Meet jouself aan die volgende:
- Ek respekteer elkeen se reg op ʼn eie opinie en die reg om met respek behandel te word (ook vir my kinders wat weerloos in my mag is).
- Ek buit niemand uit nie (ook nie die ongeskoolde/ongeletterde arbeider in my diens nie).
- Ek maak my nie skuldig aan sinlose geweld nie (ook nie verbale geweld teenoor my geliefdes nie).
- Ek gun ʼn gevangene wat sy vonnis uitgedien het ʼn tweede kans (en wens nie dat hy of sy vir ewig in die tronk opgesluit moet word en die sleutel weggegooi moet word nie).
- Ek beskerm ʼn ander persoon se goeie naam (en versprei nie kwaadwillige gerugte oor hom of haar nie).
- Ek is gasvry teenoor vreemdelinge in my land (al wens ek hulle almal weg).
- Ek respekteer ander se reg om hulle menings te huldig en uit te spreek (al dink ek hulle praat ʼn klomp onsin).
- Ek gun elkeen ʼn gelyke geleentheid (solank hulle nie van my verwag om dit vir hulle te bied nie).
- Ek beskerm my en ander mense se kinders (al vererg ek my vir die straatkinders wat by my bedel).
Dis maklik om die regte ding te sê en te doen solank dit binne jou raamwerk pas. Maar dis wanneer ons met Christus se oog na die mensdom kyk dat ons dit moeilik vind om ons hart en siel daarvoor te beywer. Lees elkeen van die punte hierbo hardop, maar vervang die gedeelte in hakies met: “omdat Christus dit van my vra”. Hoe klink dit nou vir jou?
Gebed: Here, dis so moeilik vir ons om buite ons raamwerk te dink oor ander se nood. Leer my om net vir eendag uit my veilige ruimte te klim en deur Christus se bril na die mensdom te kyk. Amen