Wat is die mens dan? - 14 April 2014
Hennie Symington
U laat hom heers oor die werke van u hande, U het alles aan hom onderwerp … Psalm 8:7
Op ʼn vraag wat maak die mens uniek in die skepping kom daar ʼn lys van positiewe sowel as negatiewe eienskappe by ʼn mens op. Onder al die skepsels van die skepping is die mens die enigste een wat bewus is van sy status as mens en wat beskik oor die kennis van goed en kwaad. Hy alleen het die vermoë tot taal en die vryheid om sy wil te laat geld. Hy kan ook kwaadwillig optree en wapens van massavernietig, wat ʼn bedreiging vir die voortbestaan van die mens is, skep.
Hoewel die boek Genesis in ʼn postmodernistiese kultuur maklik as sprokies en mites afgemaak word, kom daar tog ʼn paar verrassende waarhede oor die oorsprong van die mens na vore. Die mens is enig in sy soort en word teenoor die plante- en diereryk gestel. Paulus bevestig dit eeue later wanneer hy skryf: “Daar is ʼn verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse” 1 Korintiërs 15:39. Maar in Genesis is daar ʼn belangrike onderskeid wat deur God self getrek is: “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …” Genesis 1:26. Hierdie is ʼn unieke stelling oor die uniekheid van die mens. En soos wat God regeer oor die skepping, so het Hy die mens geskep om daaroor te heers. Ten spyte van die modern siening van een siniese wetenskaplike dat die mensdom so onbenullig is soos ‘n stukkie kougom onder die heelal se skoen, plaas God ons taamlik hoog op die ranglys van sy skepping. Maar hoe word hierdie eenselwigheid met God ʼn werklikheid in die alledaagse lewe? In Job ontdek ons die kern van die uniekheid van die mens: “Maar dit is die gees … wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom” Job 32:8. Met ander woorde, God het sy asem in ons geblaas sodat ons iets van sy skeppingsvermoë in onsself ervaar. Dis iets waaroor ek en jy diep moet gaan nadink. Met ʼn woord, of ʼn daad, of ʼn houding kan ons die skepping dien of verdoem. Vra jouself af: wat is my vernietigings- of my skeppingskwosiënt? Gebruik ek my godgewewe skeppingsmag om te maak of te breek?
Gebed: Here, wat ʼn sublieme gedagte dat ons saam met U vir die skepping verantwoordelik is. Dis meer as wat ʼn mens om kon droom. Gee dat ek my alles sal gee om die omgewing rondom my sal bewerk met dade van liefde en genade. Amen