Mees ongeleesde blitsverkoper ooit! - 11 April 2014
Hennie Symington
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Hebreërs 4:12
Wanneer laas het jy ʼn boek gelees wat jy net nie kon neersit nie? Waar kry mens ʼn boek wat jou jou naels laat kou van frustrasie oor die onvermoë van die hoof- sowel as die ondergeskikte karakters om te sien dat hulle besig is om hulle eie ondergang te bewerk? Elke blitsverkoper het sy familiesaga of twee waarin jy jou kan inleef en jou hande kan saamslaan oor gesinslede se gekonkel. Wat dit nog meer interessant maak, is om te sien hoe geslag na geslag aanhou om dieselfde foute te maak. Die belangrikste element in so ʼn boeiende boek is egter ʼn einde waar die liefde oorwin en die bose op sy baadjie kry.
Daar ís so ʼn boek en dis ʼn blitsverkoper sonder weerga. Deur die eeue heen is daar reeds nagenoeg 5 miljard Bybels wêreldwyd verkoop en dit bly jaar in en jaar uit op die topverkoperslys. Die enigste probleem is dat min van ons dit al ooit in sy geheel deurgelees het om die volle verhaal te kry. Soms gebruik ons die Bybel net om persoonlike boodskappe van hoop en aanmoediging te ontvang – amper soos sms’e. Die Bybel is soveel meer as dit: dit is die eeuoue verhaal van die mensdom, ʼn verhaal van haat, lis en liefde, maar op ʼn baie groter skaal. Dis die verhaal van die bose en sy listige planne om God se skepping te ontspoor. Maar bo alles is dit die verhaal van God wat nie kon verdra dat sy geliefde karakters wat Hy met soveel sorg geskep het, ondergaan sonder dat Hy alles in die stryd gewerp het om hulle te red nie. Die Bybel vertel die verhaal van die grootste reddingspoging ooit in die geskiedenis van die mensdom. God stuur sy seun as Deus ex excelcis – God uit die hemel –om ons uit die kake van die bose te red. In die proses verloor hy sy lewe. Die gelukkige einde is egter dat hy die dood oorwin en aan die regterhand van die Vader sit as ons verteenwoordiger in die hemel.
Daar talle en talle boeiende verhale in die Bybel wat tot jou spreek. Lees die Bybel soos ʼn blitsverkoper van bladsy een tot die laaste spannende oomblik. Dalk ontmoet jy God op ʼn heel ander manier as wat jy Hom tot dusver geken het.
Gebed: Here, ons dank u vir al die ouers (en grootouers!) wat die Bybel aan hulle kinders van kleinsaf voorlees, en vir die talle kinders en jongmense wat steeds die Bybel as hulle riglyn en handboek vir die lewe gebruik. Here, dankie dat U uself aan ons bekend maak deur die verhale wat U vir ons in u voorsienigheid in u Boek aangeteken het. Amen