Elke gesin ʼn mikrokosmos - 22 April 2014
Hennie Symington
As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tervergeefs. Psalm 127:1
Op Gesinsdag is dit goed om ʼn slag te kyk na die stand van die gesin in ons samelewing vandag. Die gesin is seker die belangrikste, maar mees bedreigde struktuur in die menslike bestaan. Wannneer twee mense trou en besluit om kinders te hê, is dit te hope dat hulle die implikasies daarvan ten volle sal verstaan. Die gesin is nie net nog ʼn aanwas van bates waarmee jy kan maak soos jy wil nie. In jou hand hou jy die welstand van geslagte wat kom.
Die gesin is soos ʼn kweekhuis waar saailinge met sorg geplant en gekoester word. En soos daar klein sukkelaarplantjies is wat ekstra sorg en aandag nodig het, is daar kinders wat meer aandag vra as ander. Die verskil is ʼn kind is nie ʼn plantjie wat jy kan uittrek en weggooi omdat hy of sy nie na wense ontwikkel nie. Net so is daar ander wat groei sonder moeite. As jy sulkes het, ag jouself gelukkig.
God het julle as ouers of versorgers aangestel (dit geld vir versorgers en pleegouers net soveel as vir ouers) soos Adam en Eva van ouds, as die bewakers van die tuin. Waar die een tekort skiet, vul die ander een hom of haar aan. Waar die een die beddings maak en die spitwerk doen, lei die ander een nat en voed en snoei.
Daar is natuurlik een belangrike verskil tussen die tuin in Genesis en die tuintjie wat julle geskep het. Jy mag nooit hierdie tuin verlaat of verwaarloos nie want dan gaan dit deur dorings en distels oorgroei word. Jou troos is egter dat die groot Tuinier ook ʼn ogie oor hierdie tuintjie hou, maak nie saak watter vorm jou tuin aanneem nie. Hy skoffel en spit waar jy vergeet of versuim het om tuin te maak, en Hy lei nat waar jy drooggemaak het.
Gebed: Vader, ons besef nie altyd hoe belangrik ons taak as ouers en versorgers is nie. Dankie vir voorreg om deel van ʼn gesin te wees te midde van talle wat nie hierdie voorreg het nie. Ons bid vir talle wat nie die voorreg het om deel te wees van ʼn gesonde gesin nie. Amen