Om vry uit te stap - 8 April 2014
Hennie Symington
Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Kolossense 2:13
Ons almal lei aan ʼn terminale siekte, die siekte van sonde. Elkeen van ons dra die las van hierdie siekte elke dag met ons saam. Elkeen van ons het in ons lewe iets waaroor ons blywende skuldgevoelens het. Sommige van ons blameer onsself vir iets wat ons aan ʼn ander gedoen het waaroor ons jare later nog spyt het. Ander dra swaar aan die las van ʼn sonde wat hulle net nie kan aflê nie. Soms blameer ons ons vir iets wat nie eens ons skuld was nie soos iemand se dood, jou ouers se egskeiding of ʼn vriendskap wat tot niet gegaan het.
Die hartseer is, skuldgevoelens tas ons selfbeeld aan en beïnvloed al ons verhoudings. Dikwels is ons skuldgevoel heeltemal buite verhouding met die daad wat ons gepleeg het. En so stel ons onsself aan as ons eie aanklaer, regter en laksman. Maar watter soort aanklaer gaan jy wees as jy jou self moet verhoor? Watter soort regter gaan ʼn oor hê vir jou pleidooi om genade as jy jouself geen medelye gun nie? En hoe gaan jy die laksman ooit ontsnap as dit jyself is.
Wees jouself genadig en plaas jou in God se hande. Pak vandag jou sonde en skuld op Jesus Christus wat met moeite mens geword het en met oneindige pyn en lyding gesterf het, die dood oorwin het juis sodat jy die las van jou kan afgooi.
Laat staan dit wat agter lê en kyk vorentoe. Dis die beste deel van die lewe, want dis sonder las van die verlede.
Gebed: Here, dankie dat ek my las kan neerlê by die kruis. U bring vir ons bevryding van die las van die verlede. Amen