Regs omkeer! - 9 April 2014
Hennie Symington
Ek sal hulle ʼn ander hart gee en ʼn nuwe gees onder hulle laat posvat. Esegiël 11:19
Wanneer ʼn mens in een rigting kyk, hoef jy slegs ʼn aks te draai om heeltemal ʼn ander prentjie te sien. Net so hoef ʼn sondaar slegs ʼn geringe verstelling te maak om sy situasie vanuit ʼn ander hoek te sien, het ʼn wyse ou rabbi eenmaal gesê.
Soms lyk die afstand tussen hemel en hel, tussen hoop en wanhoop, tussen sonde en vergifnis so groot dat ons twyfel of ons ooit daaroor kan kom. Soms lyk ʼn verhouding so onherstelbaar verbrokkel dat ons nie eens probeer om mekaar oor die gaping te vind nie. Die blote gedagte daaraan om die taak van versoening aan te pak, lyk vir ons feitlik ʼn onmoontlikheid. Maar dit hoef nie so te wees nie. Soms maak ʼn geringe verstelling ʼn yslike verskil – net ʼn aks na links of ʼn aks na regs kan jou perspektief heeltemal verander. ʼn Oomblik van hartgrondige gebed of vergifnis en die saak kry ʼn heel ander kleur. Dit is nie onmoontlik nie. Probeer dit.
Stop in jou spoor en verander van rigting. Probeer ʼn slag die ander kant van ʼn saak te sien om die probleem op te los. Hier is net ʼn paar voorbeelde:
- As jou onvermoë om verantwoordelik met geld te werk tussen jou en jou maat staan, doen iets daaraan.
- Staak die skinderpraatjies by die kantoor of tuis.
- As jou humeur jou laat struikel, leer om dit te beteuel.
- Moenie dat ʼn R100 verhoging tussen jou en jou huishulp staan nie; kyk weer na haar situasie.
- Weeg die impak van jou woorde op ander. Woorde maak seer.
- Bely jou geheime sondes voor jou Skepper en hou op daarmee.
Daar’s ʼn duisend ander voorbeelde waar ʼn geringe verandering in jou houding ʼn enorme verskil in jou en ander se lewens kan maak. As jy dit nie regkry nie, draai ten minste jou hart in die regte rigting. Wanneer jy dit gedoen het, neem God daardie las van jou af en verwyder dit so ver as die ooste is van die weste en gee jou ʼn splinternuwe kyk op jou situasie.
Gebed: Here, hoekom is dit so moeilik om my siening te verander? Ek vra dat U langs my kom staan om my in die regte rigting te stuur. Amen