So lig soos ʼn veertjie! - 7 April 2014
Hennie Symington
“Ek het die swaar drag van julle skouers afgehaal, julle kon die mandjies neersit.” Psalm 81:7
Sou dit nie wonderlik gewees het as ons ons lewens een honderd persent in ooreenstemming met God se wil kon leef nie! Helaas, nie een van ons kan spog met ʼn skoon blaadjie nie. Tog is daar altyd omdraaikans wanneer dit by God kom. Wanneer ons ons sonde bely is ons eintlik besig om ons lewens op te weeg in die lig van God se standaarde. Wie kan dan daarteen opweeg? Al wat jy kan doen is om jou bondeltjie sonde op die weegskaal te plaas en te kyk hoe die naald onverbiddelik boontoe skuif - ʼn skrikwekkende ervaring. Dis soos by die groentewinkel wanneer die skaal boontoe beweeg met elke aartappel wat jy daarop pak. Wat gaan die prys wees, wonder ons.
Maar terwyl jy nog besig is om jou oortredings op die skaal te pak, gebeur daar ʼn wonderwerk! Jou kant van die skaal word ligter en die ander kant word swaarder. Aan die eenkant van die skaal lê jou sonde en aan die ander kant God se vergifnis. Skielik word jou sondelas so lig soos ʼn veertjie want God se genade weeg meer as jou sonde.
Hoekom dan jou sonde bely? Omdat sonde ons verhouding met God en ons medemens skeeftrek. Al word jou sondes vergewe, lê die las op jou om reg te maak waar jy verbrou het. Probeer ten minste om uit die moeilikheid te bly uit dankbaarheid teenoor God. As jy nodig het om jou houding te verander om sekere sondes te bowe te kom, doen dit. As jy sekere situasies moet vermy waar jy weet jy gaan in die moeilikheid beland, maak dan so. As jou tong jou laat struikel, plaas ʼn wag voor jou mond. Kyk net hoeveel minder probleme jy vir jou op die hals haal, omdat jou verhoudig met ander en met God reg is.
Gebed: Here, U weet hoe moeilik dit vir ons is om uit die moeilikheid uit bly. Ons wil so graag ʼn lewe lei waar ons nie gedurig ons sonde in die gesig hoef te staar nie. Dankie Heer, dat ons vry kan uitstap omdat U u lewe op die skaal geplaas het. Amen