Ek glo in die vergewing van sondes maar ... - 2 April 2014
Hennie Symington
Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Matteus 18:21-22
Die Engelse digter Alexander Pope het gesê: “Om foute te maak is menslik; om te vergewe is goddelik.” Ongelukkig is die meeste van ons maar al te menslik wanneer dit by vergifnis kom. Terwyl ons nog ons sonde bely en vergifnis vra, bedink ons al weer die kwaad. Of ons relativeer ons sonde met die argument: “Ek dobbel, maar ek rokkel nie my buurvrou van haar man af nie,” of: “Ek kan dit nie help nie, ek is nou maar eenmaal ʼn rassis.”
Tog is sondebelydenis en vergifnis die hoeksteen van ons Christelike geloof. God vergewe sondes. Dit is die rede waarom Christus aarde toe gekom het en waarom Hy aan die kruis gesterf het. Maar dis nie so maklik nie. God vergewe maar Hy kan nie sonde oorsien nie. Hy kan nie maak asof dit nie gebeur het nie. Daarvoor is Hy te heilig en sy geregtigheid te groot. God kan ook nie ontken dat ons sonde Hom diep seermaak nie. Maar Hy het ook nie kans gesien om sy liefde vir ons te ontken nie. Of om ons prys te gee nie. Ware vergifnis is dus ʼn wonderwerk. Om werklik te verstaan wat vergifnis is, moet ons dit sien vanuit God se aard en wese: Hy moet vergewe omdat Hy liefhet. Hy kan nie vergewe nie, want Hy kan die sonde nie verdra of goedkeur nie. Dus stuur Hy sy Seun om die klagstaat skoon te vee. En ons stap vry uit! Van nou af en vir altyd.
Gebed:Here, vir ons is dit ondenkbaar om sonder voorbehoud te vergewe; daarom het U u Seun gestuur om dit namens ons te doen. Leer ons om so te vergewe dat vergifnis ons tweede natuur word. Amen