Mea culpa! - 1 April 2014
Hennie Symington
Beste Vers-’n-dag-lesers
Dis vir my weer eens ʼn voorreg om hierdie maand se stukke aan u te skryf vanuit die verre Japan waar slegs 1% van die bevolking Christene is. Maar wat ʼn vreugde om die toewyding en vreugde van mense wat Christus gevind het, te aanskou. Hulle neem so ʼn besluit nie ligtelik nie – een nuwe lidmaat het 15 jaar daaroor gedink voordat hy die stap geneem het. Dit het my weer opnuut na my eie geloof en belewing daarvan laat kyk. Mag u hierdie Paasseisoen ook die boodskap telkens in u hart omdraai en weer en weer daaroor nadink. Groete Henni
Ter wille van u Naam, Here, vergewe my sonde,
want dit is groot. Psalm 25:11
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Romeine 5:8
Ons het almal ʼn behoefte aan vergifnis. Miskien omdat ons die enigste wesens buiten God en sy engele is wat die kennis van goed en kwaad in ons dra. Jy weet hoe sleg jy voel wanneer jy verkeerd teenoor iemand opgetree het en hoe moeilik dit vir die persoon is om jou te vergewe. Jy kan maak asof dit jou nie skeel nie, maar eintlik wil jy vergewe wees. Ons hou nie daarvan dat mense sleg van ons dink nie.
Hoe vra ʼn mens om vergifnis? In ʼn wêreld vol kitsoplossings is dit maklik om “jammer” te sê sonder om dit te bedoel; sonder om regtig te besef wat jy gedoen het om ʼn ander een so te ontstel dat hy of sy nie lus het om jou te vergewe nie. Vergifnis kom nie sonder ʼn prys nie.
Bewys die egtheid van jou berou deur na die persoon toe te gaan en jou oortreding by die naam te noem, en sê: “Ek is jammer ek het jou voor ander mense verkleineer.” Of wat ook al. Moenie dit probeer onderspeel deur verskonings te maak soos: “Ek het nie gedink jy is so kleinserig nie,” of “Ek het maar net ʼn grap gemaak,” nie. Dit sê vir die persoon dat jy die seer onderskat en dit nie ernstig opneem nie. Nee, ware berou gaan dikwels met trane en diep emosie gepaard.
Maak ʼn belofte van: “Ek sal dit nie weer doen nie,” en hou daarby. Gaan doen dan nabetragting oor jou motiewe en die redes waarom jy so opgetree het en sê vir jouself: “Ek glo in vergifnis en die moontlikheid om geestelik te groei omdat ek besef het ek is verkeerd en iets daaraan wil doen.”
Gebed: Here, vergewe my! Ek het iemand met my woorde en optrede te na gekom. Help my om my hart te deursoek voordat ek ander mense seermaak. Amen