Van tyd tot ewigheid - 31 Maart 2014
Neville Turley
Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Efesiërs 1:9-10
Voel jy soms dat die gesegde "So baie om te doen, maar so min tyd" op jou van toepassing is? Indien wel, jy is nie alleen nie. Baie mense sal met jou saamstem.
Hoe meer harde- en sagteware ons het om ons werklas te verlig, hoe besiger raak ons. En tog wonder ek of jy in die toekoms gaan terugkyk op dit waarmee jy nou besig is en gaan sê dat jy jou tyd beter kon benut het. Dit is 'n groot gevaar dat ons so vasgevang raak in dit waarmee ons elke dag besig is dat ons die groter prentjie uit die oog verloor.
Die apostel Paulus gee ons 'n kykie in God se 'geheime plan' vir sy uitverkorenes, wat tans in tyd vasgevang is, maar wat Hy vir die ewigheid bestem het.
Die doel en plan van God was van voor Hy nog die wêreld gemaak het dat ons deur Jesus Christus sy kinders moet word. Deur sy Seun ontvang ons alle seëninge op hemel en op aarde.
God se plan sal voltooi word wanneer op die bestemde tyd Hy al sy kinders bymekaar bring en onder een hoof, naamlik Christus, verenig.
Dit sluit jou ook in want –
Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het ... Efesiërs 1:13-14
God se groot liefde verseker ons dat as ons sy Seun, Jesus Christus aanneem, ons sy kinders is en 'n integrale deel van sy volmaakte plan is. Hoe bevoorreg is ons nie.
Aan God al die eer want groot dinge het Hy gedoen.
Gebed: Hemelse Vader, ons buig voor u genadetroon in diepe dankbaarheid dat U ons liefhet. Ons sien uit na die dag wanneer u Seun weer kom om ons, en die ganse skepping, onder een hoof te verenig. Amen