Tyd om proaktief te raak - 28 Maart 2014
Nveille Turley
“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5:14-16
Hier tydens die bergrede verklaar Jesus aan sy volgelinge: "Julle is die lig vir die wêreld". Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: "Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Johannes 9:5
Jesus weerspreek nie dit wat Hy vroeër gesê het nie. Hy wat die lig van die evangelie na die wêreld gebring het, vertel nou vir sy volgelinge dat hulle nou hierdie evangelie moet uitdra na diegene wat nog in die duisternis leef.
Die bergrede is vir alle Christene. Op hierdie stadium sê Jeus vir jou en vir my: "Julle is die lig vir die wêreld."
Dit is 'n wonderlike kompliment van Jesus ons Verlosser en dit beteken dat ons proaktief moet wees. Ons Christenskap mag nie so privaat wees dat ons ons geloof "onder 'n emmer" sit nie. Ons moet die lampe wees wat Christus se liefde vir alle mense laat skyn.
In kort, ons wat Hom volg moet lewens lei wat ander mense begeer en wil nadoen. Nie oor wie ons is nie, maar oor dit wat ons as volgelinge van Jesus Christus het.
Dit is belangrik om, wanneer die geleentheid hom voordoen, oor ons Christenskap te getuig, maar onthou dade sê meer as woorde. Leef jou geloof en dit sal 'n groter impak hê as baie woorde.
Jesus sê ons is die lig vir die wêreld. Sal jy vandag 'n lamp vir Hom wees?
Gebed: Here, help ons om deur die Heilige Gees die goeie nuus van die evangelie uit te dra. Amen