Tyd om jou prioriteite uit te sorteer - 27 Maart 2014
Neville Turley
Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Filippense 3:14
Danksy die voorregte wat hy deur sy geboorte en sy grootwordjare gekry het, het Paulus reeds op 'n vroeë ouderdom uitgeblink.
Omdat hy in Tarsus gebore is, was Paulus geregtig op al die voordele en beskerming wat die Romeinse Ryk aan sy burgers verleen het.
As 'n Jood uit die stam van Benjamin en 'n Fariseër was sy stand en getuigskrifte onberispelik. Die ywer waarmee Paulus Christene op grond van die wet vervolg het, het hom van 'n glansryke toekoms verseker.
En toe, op pad na Damaskus, ontmoet hy die opgestane Here persoonlik. Dit het sy hele lewe verander.
Na sy ontmoeting met Jesus het al Paulus se voorregte en prestasies niks meer beteken nie. 'Verwerplik' is die sterk woord wat hy gebruik wanneer hy dit wat hy bereik het, vergelyk met dit wat hy in Christus ontvang het. (Filippense 3:5-8)
Paulus was geheel en al lojaal en toegewyd aan Jesus Christus. Sy voorbeeld moet ons inspireer. Miskien was jou bekering nie so dramaties as die van Paulus nie, maar êrens op jou lewenspad het jy die opgestane Jesus ontmoet en jy het op die ontmoeting gereageer.
Dit gebeur soms dat ons geestelike lewe sy glans verloor. Ons raak uitgeput. En tot die vreugde van die duiwel, verwaarloos ons ons gebedslewe, ons lees nie meer ons Bybel gereeld nie en ons bly sonder grondige redes weg van die eredienste.
Dit is wanneer ons weer terug op die regte pad moet kom.
Dit is dus nie 'n saak van jy moet jou prioriteite regkry nie, maar wel jou prioriteit – die Here Jesus Christus. Hy moet altyd nommer een wees, die fondament van jou geloof, die fondament waarop jou lewe gebou is.
Gebed: Hemelse Vader deur u Seun wys U ons die volheid van u liefde. Help ons om in sy lig te wandel en deur sy liefde ware vreugde te ken. Ons bid dit tot verheerliking van u Naam. Amen